TUINROETE NUUS - Die Eden-hengelvereniging se eerste winterliga-byeenkoms is van Stilbaai tot by Knysna aangebied.
Knysna-hengelklub, met 87.72 punte, het die beste van al die klubs gevaar. Die tophengelaar van die dag was Wesley Rapson, ook van Knysna-hengelklub, met 37.54 punte. Die voorste junior was Xandre Coetzee (onder 16) van Stilbaai-hengelklub met 17.48 punte en die topmeester was Johan van Rensburg van Mosselbaai-hengelklub met 24.36 punte. Marina Fuchs van Triton-hengelklub in Mosselbaai (1.35 punte) het die vroue uitgestof. Johan van Rensburg het die grootste eetbare vis gevang - 'n steenbras van 12,18 kg.
Die swaarste oneetbare vis, 'n sloephaai van 18,63 kg, is deur Wesley Rapson van Knysna-hengelklub ingeweeg.
Altesame 313,59 kg vis is deur die 73 deelnemende hengelaars gevang. Daarvan was 69 oneetbare en 41 eetbaar. Al die visse is lewendig teruggeplaas om bewaring te bevorder.
Die puntelys ná afloop van die kompetisie is:
A-liga
- Knysna Team Extreme (87.72 ).
- George Bosvarke (58.17 ).
- Stilbaai Stilmonsters (52.48 ).
- George Wortels (37.94 ).
- Triton Bronze Whalers (37.69).
- Outeniqua Clutchcables (37.37).
- Mosselbaai Otters (25.78 ).
- Stilbaai Assessins (18.34 ).
- Stilbaai Barbarians (10.24).
- Triton Ninjas (6.64).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'