Callie Jordaan (links) en Wally Redpath in volle vaart in die uitmergelende Trans Agulhas-wedvaart.
Met net een wedvaart op hul kerfstok en ‘n maand se oefening voor hul eerste deelname aan die wêreld se taaiste rubberboot-uitdaag, die Trans Agulhas, het Team GrootBrak se Callie Jordaan en Wally Redpath vriend en vyand verbaas deur die derde plek in hul klas in te neem.
Die prestasie word nog verder onderstreep as in ag geneem word dat hulle in die eerste skof reeds vanaf Plettenbergbaai op pad na Mosselbaai by Knysna moes tou opgooi as gevolg van enjinprobleme.
Met die hulp van El Shaddai Marine is hulle weer vlot gemaak en kon die uitdaag vanaf Mosselbaai hervat, maar moes baie tyd opmaak om mededingend te bly.
Jordaan en Redpath het die uitdaag met ‘n tweedehandse enjin en bittermin ondervinding aangepak, maar is nou vasbeslote om hulleself aanstaande jaar goed in te rig en baie meer kompeterend te wees.
Jordaan, wat die ‘loods’ was, en Wally Redpath, die ‘hulploods’, se ondersteun-ende span was Kobus Gagiano, Johan Kuyler en Charl Moolman.
Die uitdaag was vanjaar geweldig taai met swak weerstoestande wat oor feitlik die hele afstand ondervind is. Twee skofte moes padlangs gery word omdat die mis gevaarlik dig was, maar die spanne moes die afstand voor die volgende skof op ‘n bepaalde roete aflê toe die deinings meer as 5m hoog was. Volgens Jordaan was die skof tussen Stilbaai en Struisbaai die ware uitdaging waarvan die deelnemers gepraat het. "Dit was verreweg die moeilikste skof met die sterk suidoostewind wat nog nie van die vorige dag gaan lê het nie."
Die skof is ook baie bekend vir sy rowwe water by Infanta en groot branders by Waenhuiskrans waarvoor deelnemers baie versigtig moet wees. "Vanjaar was weer nie ‘n uitsondering nie en die skof van 164km was die werlike toets waarna vooraf verwys is," het hy gesê.
Die deurstamp in die eerste skof was ook nie die span se enigste kopsorg nie.
"Met die aankoms op Struisbaai het ons gesien ons enjin was nog net vas met een bout en ‘n string ander brekasies het gedreig om ons deelname kort te knip. Ons het egter moue opgerol en ‘n tydelike plan gemaak ten einde die wedvaart te voltooi soos ons aanvanklik beplan het," het Jordaan gesê.
Een van die hoogtepunte vir die span was die nagwedvaart tussen Gansbaai en Hermanus met net Hermanus se vuurtoring-muur wat in die donker sigbaar was.
"Ons as Team GrootBrak se missie was net om die Trans Agulhas te voltooi, want ons is nog beginners in die sport en ek en my span het net een resies vantevore gery. Ons het egter ons doelwit bereik en is nog boonop beloon met ‘n derde plek in die beginnersklas.
"Ons wil veral baie dank uitspreek teenoor ons borge wat dit vir ons mootlik gemaak het. Sonder die steun van Conville Apteek, Zorgfontein Jerseys, SC Pump Services, Nikwaflora en Kuyler Bakwerke sou die deelname nie moontlik gewees het nie.
"Volgende jaar sal ons graag weer wil deelneem en nooi almal uit om ons plaaslike span te ondersteun en dop te hou," het hy trots gesê.
ARTIKEL: JANNIE MEYER
Posted on: 11:15 Wed, 05 January 2011
Your Comments
Confirmed Covid-19 cases in Garden Route District: