GEORGE NUUS - Die Wesbank-tennisklub het Saterdag geskiedenis gemaak toe 'n gemengde span van die klub die eerste Eden Growthpoint Topguns-streekkampioenskap gewen en met prysgeld van R10 000 vir die klub weggestap het.
Die kampioenskap word deur Growthpoint Eiendomme en Tennis Suid-Afrika (TSA) geborg met streektoernooie in elk van die veertien tennisprovinsies in die land waarvoor klubs hul beste spanne kan inskryf.
Die wenners van elke provinsie neem in 2018 aan die nasionale kampioenskappe deel waarvoor prysgeld van R30 000 op die spel is.
Met die Eden-kampioenskappe wat Saterdag by die George-tennisklub plaasgevind het, het vier spanne, George-tennisklub, Wesbank van Oudtshoorn, George-tennisklub se tweede span en Bullet Proof Knysna van die Knysna-tennisklub mekaar die stryd aangesê en mekaar behoorlik met aanskoulike tennis opgekeil.
Die kampioenskap het in 'n rondomtalie-formaat plaasgevind met 'n mansdubbels, vrouedubbels en 'n gemengde dubbels met spesiaal aangepaste reëls.
Die spanne van George en Wesbank was ná die dag se spel gelyk met ewe veel punte waarna Wesbank as wenners aangewys is omdat hy George vroeër die dag met 2-1 geklop het.
Die wenners, Wesbank-tennisklub, en naaswenners, George-tennisklub, saam met Debra Hyde, president van die Eden-tennisvereniging en toernooidirekteur. Van links is Jacques de Beer, Rida Bester, Wehmeyer Ferreira, Christine van Coller, Hyde, Lizelle Fourie, Eduard Steyls, Charl Opperman en Karin Deltenre.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'