Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Tennisroem wink vir Heike Janse van Vuuren (17) van George wat onlangs daarin geslaag het om twee groot tennistoernooie, die J4 in Pretoria (30 Augustus tot 3 September) en die J3 in Johannesburg (6 tot 10 September) te wen.
Dit is beide deel van die International Tennis Federation (ITF) se dogters o.18-reeks. Sy het enkel- sowel as dubbeltitels gewen.
Dit is die eerste keer dat 'n vrouespeler van die Eden-streek daarin kon slaag om die prestasies te behaal.
Vroeg vandees-week het sy 'n verdere groot stap in haar loopbaan geneem toe sy aan haar eerste beroepstoernooi in die WTA (Womens Tennis Association) deelgeneem het. Janse van Vuuren is nog o.18 en het in die toernooi rakette teen volwasse vroue geswaai. Sy is op die oomblik die no.1-speler vir dogters o.18 in Suid-Afrika.
Sy ontvang afrigting by die Great Tennis Academy. Lizelle Fourie, direkteur van die Akademie, bygestaan deur twee prestasie-afrigters Eduard Steyls en Letona Mokhitli, het Maandag gesê dit is 'n baie groot prestasie wat sy bereik het. Sy het 'n span wat haar bystaan en word afgerig deur Steyls, Mokhitli en Morné van Zyl.
Heike Janse van Vuuren van George maak vroeër vanjaar litte los op een van die Akademie se tennisbane.
Volgens Fourie het Janse van Vuuren se "kopdokter" Adam McKinley hierdie jaar ongelooflik baie vir haar beteken. Die span van Sport Specific Development, Chane Botha en Torrien Ravenscroft wat spesialiseer op haar fisiese ontwikkeling, het ook 'n belangrike rol gespeel.
"Heike se ouers Theo en Brigitte Janse van Vuuren speel as fenomenale sportmense 'n groot rol in haar sukses. Heike is van jongs af geleer om reg te eet en 'n werksetiek van 'n atleet te ontwikkel," het Fourie gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Volgens haar werk die Akademie se prestasie-afrigtingspan sedert haar gr. 3- jaar hard om haar tennisloopbaan te ontwikkel. "Heike het vroeër hierdie jaar reeds besluit om tennis 'n loopbaan te maak."
Volgens Steyls is die akademie baie opgewonde oor Janse van Vurren se tennisspelery. Haar loopbaan het begin en die twee titels wat sy gewen het, is die grootste nog van haar loopbaan.
Mokhitli het gesê: "Ons glo regtig sy het wat nodig is om 'n kampioen te kan wees. Sy sal ver gaan."
Heike Janse van Vuuren van George maak vroeër vanjaar litte los op een van die Akademie se tennisbane. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'