So het die voorsitter van die SWD Tennisvereniging, Johan Koch, Vrydag-aand tydens die algemene jaarvergadering van die vereniging gesê.
Koch het 'n beroep op klubs gedoen om soveel spanne as moontlik vir ligas in te skryf en nie sommer ligtelik spanne te onttrek wat ingeskryf is nie.
Die vergadering waartydens die hoof uitvoerende beampte van Tennis Suid Afrika (TSA), Ian Smith, as spreker opgetree het, is goed bygewoon.
Volgens Smith is TSA tans ver gevorder met 'n plan om aan alle geaffilieerde tennisspelers 'n kredietkaart te voorsien waarmee afslag verkry kan word met die aankoop van alle tennisbenodighede.
Volgens hom moet alle tennisspelers dieselfde voordele geniet en almal ook dieselfde fooie aan TSA betaal. Om hierdie rede is dit van groot belang dat TSA oor 'n databasis van alle spelende tennisspelers beskik wat deur unies verskaf moet word. Volgens Smith is borge wêreldwyd 'n probleem en trek TSA ook swaar met beperkte fondse.
TSA is tans ook besig om sy grondwet te hersien wat sal eersdaags vir kommentaar aan unies uitgestuur word.
Koch, wat vir die 19e keer tot voorsitter van die SWD Tennisvereniging verkies is, het in sy jaarverslag die SWD spelers wat Suid-Afrika die afgelope jaar in die buiteland verteenwoordig het, gelukgewens en gesê die unie doen ten spyte van sy grootte, besonder goed. Hy het ook sy dank teenoor die unie se afrigters uitgespreek vir hul bydrae tot die bevordering van tennis in die SWD.
Hy het voorts die hoop uitgespreek dat die Paasnaweek Ope-toernooi weer in 2014 aangebied sal kan word. "Meer sal gedoen moet word vir jonger spelers," het Koch gesê.
Die jaarlikse Franklin-skild-toernooi sal weer vroeg in die nuwe jaar gespeel word.
* Die unie se bestuur vir 2013/14 is Johan Koch (president), Garnett Wicomb (visepresident), Christine van Coller (sekretaresse), Connie Plokhooy (kassier), Lawrence Howell, Danie Gildenhuys, Danie Swart, Reo Barnard, Lizelle Fourie (junior tennis), Gerna Joubert (hoërskole tennis), Ronnie van't Hoff (veterane tennis) en Daan Spengler (afrigters).

Die bestuur van die SWD Tennisvereniging vir 2013/14 saam met die hoofuitvoerende beampte van Tennis SA, Ian Smith. Voor links: Lizelle Fourie, Christine van Coller, Johan Koch, Ian Smith en Garnett Wicomb (visepresident). Agter links: Lawrence Howell, Debbie Hyde, Connie Plokhooy, Gerna Joubert, Daan Spengler, Danie Gildenhuys en Danie Swart.