GEORGE TENNIS NUUS - Die Eden-tennisvereniging het verlede Vrydag 'n baie geslaagde tennisontwikkelingskliniek op die bane van Great (Garden Route Excellence Academy for Tennis) by die PW Botha Kollege in George aangebied.
Die voorsitter van Eden se ontwikkeling en transformasie, Liesel Muller, wat hard werk vir die groei van tennis in die gemeenskap, het haar dank uitgespreek teenoor die afrigters Lizelle Fourie, Helgard Muller, Jackie Jones, Christie Boshoff en Jean Jooste, wat hul dienste gratis aangebied het om die kinders touwys te maak.
Die bekende veteraan-tennisspeler van Oudtshoorn, Garnett Wicomb, wat die kliniek geopen het, het die kinders aangemoedig om die geleenthede wat hulle gebied word met albei hande aan te gryp en hard te oefen.
Volgens Muller was die kliniek een van vele wat beplan word om in die toekoms in ander dorpe in die Eden-distrik aan te bied.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'