GEORGE TENNIS NUUS - Twee jong tennisspelers van George het vanjaar met spogvertonings hulself in die topposisies in hul onderskeie ouderdomsgroepe gevestig.
Dié twee, Drikus de Jager en Heike Janse van Vuuren, word by die Great Tennis-akademie deur Eduard Steyls onder hande geneem en het onder sy afrigting behoorlik gedy.
Drikus de Jager
Drikus is tans in die nommer een plek op die Suid-Afrikaanse ranglys vir o.14's terwyl Heike eerste geplaas is op die o.16-ranglys vir dogters.
Drikus het by die Afrika Junior Kampioenskappe, waar die beste Afrika-tennislande hul twee beste spelers laat deelneem het, algeheel derde geëindig in die o.14-afdeling waarna hy gekies is om Afrika in Europa in die Young Stars-toer te verteenwoordig.
Die Young Stars-toer bestaan uit 'n reeks van toernooie wat oor vyf weke in Frankryk, Duitsland, Nederland en België aangebied word. Drikus het Suid-Afrika ook twee keer vanjaar in Algerië en tuis verteenwoordig. By die Tennis SA (TSA) Junior Meesterstoernooi in Potchefstroom, waar slegs die beste agt spelers van elke ouderdomsgroep meegeding het, word hy ná sy oorwinning gekroon as die beste o.14-speler in SA.
Drikus is tans ook deel van TSA se nasionale oefengroep.
Heike Janse van Vuuren
Heike het twee Super 8-toernooie in die Vrystaat en Gauteng-Noord gewen. Sy het Suid-Afrika twee keer vanjaar in Tunisië en Namibië verteenwoordig. Sy is ook vir die Next Generation-tennisgroep gekies.
By haar eerste deelname aan 'n JA ITF-toernooi in Kaapstad het sy haar eerste internasionale punte verwerf ná haar oorwinning in die eerste ronde. By die TSA Junior Meesters-toernooi in Potchefstroom het sy algeheel derde geëindig.
Benewens haar eerste plek op die SA o.16-ranglys is Heike ook deel van Tennis Suid-Afrika (TSA) se nasionale oefengroep.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'