GEORGE TENNISNUUS - Die Juries-egpaar van George kan nie uitgepraat raak oor hul belewenis van die Match in Africa toe Roger Federer en Rafael Nadal in Kaapstad kragte op die tennisbaan gemeet het nie.
Nathan en Sonja Juries was Vrydagaand, 7 Februarie, deel van die 51 954 mense wat die geleentheid bygewoon het.
Tydens die geleentheid is meer as R50 miljoen vir opvoedkundige doeleindes ingesamel. Ofskoon kaartjies nie goedkoop was nie (daar was kaartjies wat R150 gekos en selfs R1 900), het mense van heinde en ver gekom.
Die Juries-egpaar het al verlede Donderdag uit George na Kaapstad vertrek om eers 'n paar persoonlike sake af te handel.
Vrydagoggend het hulle die V&A Waterfront besoek, wat naby die Kaapstad-stadion is. Volgens hulle was daar baie mense. Oral het mense tennis gepraat en van die mense het T-hemde met Federer en Nadal se gesigte op gedra.
Teen omstreeks 16:30 is hulle deur die stadion se hekke. In daardie stadium was daar taamlik baie mense wat deur die hekke beweeg het. Daar was 'n wonderlike atmosfeer.
Vir Nathan, wat op sy dag vir SWD-tennis gespeel het, was Vrydagaand 'n droom wat waar geword het. Hy wou nog altyd na 'n groot tenniswedstryd gaan kyk.
Maar amper was hulle nie daar nie. In September verlede jaar het hulle kaartjies probeer koop, maar kon nie kry nie. In Desember is nog kaartjies beskikbaar gestel en die keer was hulle suksesvol.
Hulle het hoog op die paviljoen in die middel aan die kant van die baan gesit. "Ons het alles goed gesien."
Volgens hom was dit elk sent werd. "Dit was 'n ondervinding van 'n leeftyd en iets wat jy nie met geld kan koop nie."
Hy het gesê dit was 'n onbeskryflike gevoel om daar te sit. Buiten die wedstryd tussen Federer en Nadal was daar ook die ander wedstryd waarin Trevor Noah, Bill Gates, Federer en Nadal betrokke was.
Nathan Juries Vrydagaand, 7 Februarie, by die Match in Africa toe Roger Federer en Rafael Nadal in Kaapstad kragte op die tennisbaan gemeet het. Hier beduie hy na 'n foto van Nadal. Nadal is sy en sy vrou se gunsteling speler.
Sonja het gesê dit was die beste aand van haar lewe. Dis danksy haar man dat sy oor die jare begin tennis kyk het. Hulle hou van beide Federer en Nadal, maar Nadal is hulle gunsteling.
Sy het dit as 'n baie spesiale geleentheid beskryf. "Dit was 'n belewenis wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie. Die geld wat ingesamel is, is vir 'n goeie doel. Ek studeer op die oomblik self onderwys. Ons het die geld nodig vir onderwys in ons land. Die geleentheid het op die regte tyd gekom."
'n Verdere bonus was om ook vir Noah en Gates in lewende lywe te sien.
In 'n ligte trant het sy net een "klagte". Die geleentheid het te vinnig verby gegaan en Federer en Nadal het te kort gespeel.
Nathan and Sonja Juries from George were amongst the close to 52 000 people that attended the tennis match between Rogerer Federer and Rafal Nadal in Cape Town on Friday. Both described it as an unforgettable experience and said it was worth every cent.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'