GEORGE TENNISNUUS - Bernice Bezuidenhout en Damien Nezar het verlede Saterdag tydens die Citadel George-tennisklubkampioenskappe se onderskeie eindstryde onderskeidelik die vroue- en mansenkelspeltitel gebuit.
Bezuidenhout het Natasha Smit geklop terwyl Nezar, die verdedigende kampioen, met Helgard Muller, ook 'n vorige klubkampioen, afgereken het.
Dié klubeindstryde is 'n jaarlikse hoogtepunt op die tenniskalender en het 'n trotse geskiedenis met die eerste wenner op die trofee wat sedert 1936 dateer. Die toernooi word elke jaar gedurende Oktober afgehandel en strek oor ongeveer agt weke.
Daar was goed geborgde pryse en spelers het hul beste gelewer en deurentyd 'n baie goeie gees gehandhaaf.
Die kompetisie was uiters mededingend en opwindend met heelwat wedstryde was tot in die laaste spel nog in die weegskaal was.
Die uitslae is as volg:
- Plaateindstryd (vroue): Talida Wagener klop Allison Nezar.
- Plaateindstryd (mans): Charl Opperman klop Willie Breytenbach.
- Gemengde dubbelseindstryd: Wayne Till en Karin Deltenre klop Charl Opperman en Bernice Bezuidenhout.
- Vrouedubbelseindstryd: Patty Baillie en Lulette Smit klop Sonja Botha en Karin Deltenre.
- Mansdubbelseindstryd: Wayne Till en Willie Breytenbach klop die verdedigende kampioene, Damien Nezar en Leander Petersen.
- Vroue-enkelspeleindstryd: Bernice Bezuidenhout klop Natasha Smit.
- Mansenkelspeleindstryd: Damien Nezar klop Helgard Muller.
Die Eden-tennisdistrik se gemengde dubbelsliga neem volgende week in aanvang en George-tennisklub is die verdedigende kampioen.
Die Eden-streekkampioenskappe van die Growthpoint Nasionale TopGuns-klubkampioenskappe vind op 16 November by die George-tennisklub plaas en belangstellendes is welkom om dit te kom ondersteun.
Enigeeen wat belangstel om by George-tennisklub aan te sluit, oud en jonk, kan vir Marius Bezuidenhout bel by 082 904 1924.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'