GEORGE RUGBY-NUUS - Ná drie agtereenvolgende oorwinnings beleef die SWD Arende een van hul beste seisoene in die Curriebeker se Eersteliga en kan mens hulle dit nie verkwalik as 'n tuis-halfeindstryd in hul drome figureer nie.
Dié is net twee oorwinnings weg.
Die één kragmeting wat dié droom aan skerwe kan laat spat, is die Boland-Kavaliers teen wie hulle Vrydagaand op Outeniquapark te staan kom. Die wegwedstryd teen die agterosse in die kompetisie, die OP Olifante op 5 Oktober in Port Elizabeth behoort hulle te beklink.
Die Arende het tot dusver net een wedstryd teen die Luiperds met 27-25 verloor. Swak besluitneming het hulle gekelder. Maar daarna het die Arende hulself reggeruk en met die Grens Bulldogs (37-22), die Griffons (32-7) en die Valke (36-34) afgereken.
Die Griffons het die kompetisie die afgelope twee jaar gewen.
Nou moet hulle net op die wenmomentum voortbou vir 'n tuis-halfeindstryd op 12/13 Oktober.
Die Luiperds gee die toon aan op die puntelys met 19 punte. In die tweede plek volg die Arende (16) met die Boland Kavaliers (15) wat in hul nekke blaas. Die Valke (12) lê vierde, gevolg deur die Grens Bulldogs (11), die Griffons (9) en die OP Olifante (2).
Terug by die Bolanders. Die Wynboere het nou een maal die nare gewoonte om in hul wegwedstryde die tuisspan se partytjie te bederf. Hulle is bekend daarvoor dat hulle vanuit elke moontlike hoek aanval en wedstryde in die doodsnikke in 'n oorwinning omskep.
Maar die veggees en deursettingsvermoë wat die Arende teen veral die Valke getoon het, kan hulle teen die Bolanders deurdra. Om 'n agterstand van 14-22 ná rustyd om te draai, sit nie sommer in enige span se broek nie.
Die Arende se grootste pluspunt is waarskynlik hul sterk plaasvervangerbank wat met inpakspelers gelaai is. Dit is al 'n paar keer dié seisoen bewys.
Maar dis straks nie genoeg teen die omgekrapte Bolanders nie. Slim besluite, akkuraatheid, 'n hoë werkverrigting en die belangrikste: goeie dissipline vir die volle
80 minute. Dit sal die verskil tussen 'n wen of verloor beteken.
Die span was met druktyd nie bekend nie. Die afskoptyd is om 18:00.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'