GEORGE RUGBY-NUUS - Die drome van 12 rugbyspelers van Hoërskool Outeniqua, wat vir SWD se o.18 Cravenweekspan gekies is, is daarmee heen. Die toernooi wat in Oktober by Hoërskool Monument in Gauteng sou plaasvind, is afgestel as gevolg van die Covid-19-situasie. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat die toernooi nie plaasvind nie.
Uit die groep van 12 is daar nege gr. 12-leerlinge, wat beteken dat hulle skolerugbyloopbane vir altyd verby is. Die ander drie kan dalk weer aanstaande jaar geleentheid kry om die Cravenweekspan te haal.
Dié spelers van die skool het die SWD groep van 23 gehaal. Oakdale het nege spelers in die span gehad en Hoërskool Oudtshoorn en Hoërskool Punt, een elk.
Jaco Jansen van Rensburg, hoof van rugby by Outeniqua, het Maandag gesê uiteraard is die spelers teleurgesteld, maar daar is niks wat hulle aan die besluit kan doen nie. Die spelers het baie uitgesien na die geleentheid. "Van die ouens droom al van jongs af om Cravenweek te speel. Dis waar die bestes op skolevlak teen mekaar kan meeding."
Wat die teleurstelling erger maak is dat die SWD-groep van verlede jaar en vanjaar, baie gedug was. Hulle het 'n uitstekende kans gehad om as die onoffisiële wenners by die toernooi weg te stap.
Vir die spelers was dit in die algemeen nie maklik nie. Die afgelope twee jaar kon hulle net vyf keer vir hul skool se eerste span uitdraf.
Volgens Jansen van Rensburg is Outeniqua in die gelukkige posisie dat sy spelers aan groot toernooie blootgestel word. Hulle kan wys waartoe hulle in staat is. Die spelers by die kleiner skole kry nie daardie geleenthede nie.
Alles is egter nie net negatief nie en sowat 90% van die spelers in gr. 12 is geholpe met beurse by universiteite.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'