Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Watwou te klein om vir Suid-Afrika as losvoorspeler uit te draf. Nou skitter hy vir sy Ierse klubspan Munster, vir Ierland én die Britse en Ierse Leeus.
CJ Stander, 'n boorling van George en oud-leerder van Laerskool Blanco, is pas terug van die Britse en Ierse Leeus se rugbytoer in Nieu-Seeland en kuier tans op sy ouerplaas in Geelhoutboom.
Dié taai agtsteman, wat nogal sterk herinner aan die oud-Bok Jan-Boland Coetzee, is nou 'n huishoudelike naam in Ierland en een van die gewildste spelers daar op klub- en nasionale vlak.
In 'n video-onderhoud (kyk op www.georgeherald.com) met Wessel van Heerden sê CJ hoewel hy in hart en siel 'n Suid-Afrikaner is, het hy en sy vrou, Jean-Marié, die lewe en kultuur in Ierland - en meer spesifiek van sy tuisdorp in Ierland, Limerick - omarm.
"Ierse rugby en die land se mense het ons volledig aanvaar en deel gemaak van hul kultuur en die gemeenskap. Die Iere het my ook die geleentheid gebied om rugby op internasionale vlak te speel. Deur my allerbeste op en van die veld te gee, wil ek my dankbarheid teenoor my nuut aangenome land betoon vir hul ongelooflike gulhartigheid."
Die rede vir sy sukses oorsee is sy harde werketiek, iets wat hy van kindsbeen af op die familieplaas aangeleer het. "Mens kan nie net op rou talent staatmaak nie. Dit verg ongelooflike harde werk en toewyding om bo uit te kom én daar te bly." En dis sy raad aan jong rugbyspelers:"Mense gaan daagliks op jou lewenspad beland en nie almal gaan dinge vir jou makliker maak nie. Daarom moet jy hard werk en jou eie pad uitkap as jy iewers wil kom."
Die 22-jarige wat Suid-Afrika as 'n jong seun verlaat het, het nou in Ierland ontpop as 'n man van staal.
Kyk 'n video hieronder.
VIDEO: WESSEL VAN HEERDEN, GROUP EDITORS DIGITALE KOöRDINEERDER
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'