GEORGE RUGBY-NUUS - Vrouerugby in die SWD gaan van krag tot krag nadat die unie nóg 'n Springbok opgelewer het. Ziyanda Ngohlekana het 'n volwaardige Springbok geword toe sy tydens die onlangse toets teen Kenia in Stellenbosch van die plaasvervangersbank opgedraf het.
Ngohlekana (losvoorspeler) en Amy-Kay Klaassen (slot) was vroeër deel van die Springbokke se oefengroep in Stellenbosch. Klaassen, wat reeds 'n Springbok is, moes ongelukkig terugkeer ná 'n besering.
Martin de Vos, hoof van rugbyoperasies in die SWD, het gesê die unie is baie trots op die spelers.
Nieteenstaande die uitdagings van Covid-19 stand die spel sterk in die streek. Vrouerugby in die streek het reeds in 2001 begin. Sedertdien het van die klubs gekom en gegaan. Die laaste vier tot vyf jaar het dit egter met rasse skrede vooruitgegaan in die streek.
Daar is sewe vroueklubs in die streek. As gevolg van die Covid-19-situasie kon die klubliga nie vanjaar plaasvind nie.
Amy-Kay Klaassen en Ziyanda Ngohlekana.
Vrouerugby gewild
Een van die groot bydraende faktore vir die sterker stand van vrouerugby in die streek is SA Rugby se Youth Training Centre. Hulle is verantwoordelik vir die ontwikkeling van die spel vir dogters tussen 14 en 18 jaar. Die program begin nou vrugte afwerp en deursyfer na die senior vlak.
Op die oomblik is daar 'n liga vir dogters. Altesaam 20 skolespanne van oor die streek is betrokke. In die stadium is dit hoofsaaklik kleiner skole wat betrokke is, maar die plan is om dit uit te brei na van die groter skole.
Daar is ook 'n Arende-vrouespan wat deelneem aan die vroueafdeling van die eerste divisie van die Curriebekerreeks. Covid-19 het ongelukkig verhoed dat hulle vanjaar kon deelneem.
Volgens De Vos is vrouerugby in die streek besig om in gewildheid te styg. Dit gebeur ook in ander dele van die wêreld. Die twee vroue wat na die oefenkamp genooi is gee 'n aanduiding van die talent in die streek.
Vrouerugby is ook vir SWD 'n prioriteit. "Ons is baie opgewonde oor die vooruitsigte van vrouerugby in die streek."
Hy het gesê die gewildheid in die gemeenskappe kan toegeskryf word aan die feit dat dit 'n mate van identiteit vir mense gee. Dit help ook met beeldbou.
Veda Manie, algemene bestuurder SWD-rugby, het gesê die unie is baie trots op sy nuwe Springbok.
Amy-Kay Klaassen
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'