Met nog drie wedstryde oor in die kwalifiserende rondes, sal die twee voorlopers, Griekwas en die Luiperds, al hul wedstryde moet verloor vir die Arende om by die agterdeur in te glip.
Moet liewers nie asem ophou vir 'n Houdini-oomblik nie, want die Arende moet juis die gunsteling, die Griekwas, op 19 Julie in George in hul laaste wedstryd aandurf. Hy speel ook Saterdag teen die Boland-Kavaliers en op 5 Julie teen die Grens-Bulldogs.
Nie een van die laasgenoemde twee behoort die Arende te klop nie, maar dis albei wegwedstryde teen twee spanne wat ook desperaat is om hul sukkelseisoen met oorwinnings om te draai. Tegnies gesproke is al drie uit die wedloop en is die oorblywende wedstryde net van akademiese belang.
Dit sal die Arende loon om juis die "makliker" wedstryde te gebruik om hom nou al deeglik vir die komende Curriebeker-seisoen se Eerste Liga voor te berei. En dit kan hy doen deur beide die Boland en Grens deeglik te klop. Vergeet maar van verlore aansien herwin, maar dink eerder watse groot hupstoot dit aan hul selfvertroue sal gee.
Dis iets wat die Arende beslis gaan nodig hê as hy vanjaar in die Eerste Liga sy stempel wil afdruk. Die einste Luiperds en Valke, teen wie hy nou in die kwalifiserende rondes vasgeval het, wag op hom.
Die Arende se nederlaag verlede Vrydagaand op Outeniquapark met 52-34 teen die Valke was teleurstellend, maar met alle eerbied en respek, die Arende het nie verdien om te wen nie. As 'n span sewe drieë op jou tuisveld teen jou druk, sê dit nie baie van jou verdediging nie.
Minstens drie verbroude duikslae het op drieë vir die besoekers uitgeloop. Mens wil nie derms uitryg nie, maar die span sal vorentoe bitter hard moet werk aan dissipline, balbeheer en -besit, onnodige hanteerfoute en, les bes, hul verdediging. As hulle dieselfde tipe spel teen die Griekwas opdis sal die rugbyvaders in die SWD 'n nuwe telbord op Outeniquapark moet aanbring. Die bestaande een kan nie driesyfergetalle akkommodeer nie.
Die Arende het hul beste beskikbare spelers gekies vir Saterdag se wegwedstryd teen die Boland-Kavaliers. Die span is: Elric van Vuuren, Brian Skosana, Daniel Roberts, Martin du Toit, Alshaun Bock, Karlo Aspeling, Danie Faasen, Davon Raubenheimer, Junior Bester, Shaun Raubenheimer, Mzwanele Zito, Schalk Oelofse, Dexter Fayi, Kurt Haupt, Roy Godfrey (k). Reserwes: Wayne Khan, Ashley Buys, Grant le Roux, Lyndon Hartnick, Dwayne Kelly, Gerrit Smith en Anver Venter.
Clint Wagman het verlede Vrydagaand op Outeniquapark, ná 'n lang afwesigheid weens 'n gebreekte polsgewrig, weer in die tweede helfte van die wedstryd teen die Valke speelkans gekry en stewig vertoon. Foto: Hugo Redelinghuys
ARTIKEL: HUGO REDELINGHUYS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'