RUGBY NUUS - Met reën wat net nie wou ophou nie het die Airlink Pumas en die Phangela Eagles/Arende mekaar vroeg Vrydagaand, 20 Oktober, in 'n vriendskaplike wedstryd op Outeniquapark aangedurf.
Van vriendskaplikheid was daar egter nie sprake nie en die spanne het net soos die reën, aangehou om mekaar behoorlik aan te vat.
Die Pumas het 31 - 12 gewen, maar die tuisskare wat die eendeweer trotseer het, was sekerlik nie teleurgesteld nie. Die Arende het hulle nie deur die Pumas laat afskrik nie.
Die Pumas is immers 'n span wat in die onlangse verlede die Curriebeker omhoog gehou het en ook in 'n eindstryd van die kompetisie gespeel het. Dit was 'n fisieke harde wedstryd.
In een stadium het Janneman Stander, kaptein van die Arende, 'n harde stamp teen sy kop gekry en hy kon nie verder speel nie. Jandré Grobler, wat van die plaasvervangerbank vir die Arende gespeel het, het gehelp dat die skare vergeet van die koue. Met 'n kragtige lopie het hy die skare op hul voete gehad.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Maandag gesê die spelers het hulle nogal goed van hul taak gekwyt nieteenstaande die reëntoestande. Uit 'n taktiese oogpunt was die skopwerk goed.
Dit was 'n geleentheid om die spelers blootstelling te geen aan so 'n omgewing.
Volgens hom is daar goeie vertroue in die span. Hy is tevrede met die span se vertoning Vrydagaand.
Nou wag drie maande van voor-voorseisoen voorbereidings. Die span ding aanstaande jaar mee in die SA Cup en die B divisie van die Curriebeker. Die eerste amptelike wedstryd is in Februarie.
Voor daardie tyd sal die Arende teen einde November teen 'n universiteitspan uitdraf en in Januarie teen nog 'n universiteitspan.
Hy is trots hoe die groep die laaste paar maande opgestaan het. Daar moet in gedagte gehou word dat die spelers se kontrakte eers begin November inwerking tree. Die spelers het reeds baie opofferinge gemaak.
'n Speler van die Pumas rank hoog na die bal tydens 'n lynstaan.
Punte:
Vir SWD het Jade Stoffels en Hilton Kamanda agter die doellyn gaan kuier. 'n Suksesvolle doelskop is deur Josh Vermeulen behaal.
Die Pumas het vyf keer gaan druk. Die driedrukkers was Llewellyn Classen, André Fouche, Lundi Msenge, PJ Jacobs en Simon Raw.
Brandon Thompson het met twee doelskoppe geslaag en Clinton Swart met een.
Met die SWD klub XV het dit minder goed gegaan. Die span het teen 'n Pumas XV 12 - 97 verloor.
Die storie van die aand. Die wedstryd tussen die Pumas en die Arende is in reën beslis.
Janneman Stander, kaptein van die Arende, saam met sy pa, Jannie tydens die wedstryd. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’