GEORGE NUUS - Het jy wat dit vra om 'n rugbyspan op provinsiale vlak af te rig? Dan wil die SWD-rugbyvoetbalunie van jou hoor. Die unie nooi belangstellendes om aansoek te doen vir die hoofafrigterpos van die SWD Arende wat in George gebaseer is. Dit is 'n kontrakpos en is vanjaar deur Eddie Myners beklee.
Veda Manie, algemene bestuurder van SWD-rugby, het Maandag 20 Desember by navraag gesê dis 'n kontrakpos en enigiemand wat aan die vereistes voldoen, kan aansoek doen.
Voornemende kandidate moet onder meer beskik oor minstens 7 tot 10 jaar ondervinding van afrigting, rugbybeplanning en -bestuur hê. Hy/sy moet ook oor 'n vlak drie afrigtingskwalifikasie van wêreldrugby beskik. Die sluitingsdatum is 14 Januarie.
Myners het 'n seisoen vol uitdagings beleef waarvan baie buite sy beheer was.
Die span was die enigste wat in net vier wedstryde in die 1ste divisie van die Curriebekerreeks kon speel en volpunte moes afstaan vir twee wedstryde wat as gevolg van Covid-19 nie gespeel kon word nie.
Van die spelers kon nie gekies word nie omdat hul positief vir Covid-19 getoets het. Enkele spanbestuurslede is ook positief getoets. Drie van die spelers se ma's en die spanbestuurder, Martin de Vos, se ma is oorlede weens Covid-19.
Myners moes ook klaarkom sonder 'n bestuurder en 'n assistentbestuurder as gevolg van die situasie.
Die Arende se rekord vanjaar
- Die Arende het hul eerste wedstryd met 17-50 teen die Valke verloor. Die twee wedstryde wat daarna moes plaasvind teen die Luiperds en die Valke, moes afgestel word as gevolg van Covid-19.
- Die Arende het met 21-28 teen Boland in Wellington verloor.
- Die Arende wen teen Grens Bulldogs met 50-29.
- Verloor laaste wedstryd teen die Olifante met 28-19.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'