RUGBYNUUS - Al kon die Dotsure SWD Arende nie Saterdagmiddag die Toyota Cheetahs op Outeniquapark in George wen nie, het hulle die Cheetahs behoorlik laat klippe kou vir hul oorwinning van 26 - 17.
Vir goed 60% van die SA Beker-wedstryd het die tuisspan met 17 - 5 voorgeloop, maar die Vrystaters het in die laaste tien minute sy plaasvervangers ingespan wat ’n groot verskil gemaak het en tot die toeskouers se teleurstelling, met twee vinnige drieë die telling na 19 - 17 geneem.
Kort voor die eindfluitjie het die besoekers nog sewe punte aangeteken.
Maar, die Arende hoef nie in sak en as te gaan sit nie.
Hulle het waarskynlik hul beste spel tot dusver dié seisoen gelewer en die besoekers soms onder groot druk geplaas. Hul verdediging was ook uit die boonste rakke.
Heyneke Meyer, hoofafrigter van die Arende, het ná afloop van die wedstryd gesê hy is ongelooflik trots op die spelers en hul veggees. “Ons spel toon steeds ’n opwaartse kurwe en ons het nou gewys ons kan gewis saam met die groot honde draf."
Na Saterdag se wedstryd lê die SWD Arende nou in vierde plek op die SA Beker-ranglys met die Griekwas eerste, Pumas tweede en die Cheetahs in die derde plek.
Tien spanne ding mee in om dié gesogte beker en die top-4 dring deur na die Curriebeker.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’