885772]pRUGBY NUUS - Die SWD Arende sal ongetwyfeld 'n formidabele teenstander wees in die Mzansi-eindstryd wanneer hulle Saterdag 17 Junie teen die Valke op Barnard-stadion in Kempton Park, Gauteng uitdraf.
Die span het die afgelope Saterdag karakter gewys toe hy die Boland Kavaliers met 38 - 27 geklop het.
Die Arende het vroeër vanjaar teen die Kavaliers vasgeval. Boonop was daar in die aanloop tot Saterdag se wedstryd baie drama af van die veld. Die span het eers verlede Dinsdagaand gehoor hulle teenstanders gaan die Kavaliers wees.
Daarna was daar onsekerheid of die wedstryd wel gaan plaasvind. Dis in 'n stadium uitgestel, maar Vrydagmiddag, bykans 24 uur voor die wedstryd, is die span ingelig dat dit wel gaan plaasvind.
Toe die Arende Saterdagmiddag omstreeks 15:00 op Outeniqua-park uitdraf, was hulle duidelik lus vir rugby.
Ofskoon die Kavaliers met 'n strafdoel eerste punte aangeteken het, het dit die Arende nie afgesit nie. Die Arende het in die eerste helfte vier keer agter die doellyn gaan kuier en die Kavaliers twee keer. Teen rustyd was die Arende 26 - 20 voor.
Die tweede helfte was vir beide spanne meer klinies en hulle het besef die wedstryd kan nog enige kant toe gaan. Die Kavaliers het toe een keer agter die doellyn gaan kuier. Met die eindfluitjie naby en 'n telling van 38 - 27 in hul guns, het die Arende hul plek in die eindstryd verseker.
Die manne het mekaar vir oulaas nog "gegroet" en 'n klein geveggie het tussen hulle uitgebreek. Dit was egter van korte duur en is die Arende gelukgewens met hul oorwinning.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Maandag gesê die span sien uit na Saterdag se wedstryd. Hulle verwag 'n moeilike wedstryd. Die Valke is waarskynlik die mees konstante span in die reeks.
Die Arende het vroeër vanjaar in die eerste divisie van die Curriebekerreeks teen die Valke in Kempton Park met 38 - 42 verloor. Later het die Arende egter in die Mzansi-reeks die Valke 33 - 24 op Outeniquapark geklop.
Benewens die Mzansi-eindstryd speel die Valke 'n week later teen die Kavaliers in die eindstryd van die eerste divisie van die Currie-bekerreeks.
Volgens Moolman het die Arende goed gevaar teen die Kavaliers omdat hulle takties goed gespeel het en die wedstryd goed bestuur het.
Dit pla die Arende nie dat dit Saterdag 'n wegwedstryd is nie. Die Arende het al 'n paar keer vanjaar wegwedstryde gewen.
SWD Eagirls
Die SWD Eagirls het in die hoof-voorwedstryd 'n goeie voorbeeld vir hul manlike kollegas gestel. Hulle het die Valke se vrouespan met 78 - 0 geklop.
Dit was die grootste oorwinning ooit wat die span behaal het.
Elize Arendse, afrigter van die span, het Maandag 12 Junie gesê die rede vir die span se sukses is die goeie gees en samespel.
Die span speel Saterdag 17 Junie in Potchefstroom teen die Luiperds. "Ons sien uit na die wedstryd. Dit gaan 'n harde een wees. Ons het die einstryd verlede jaar teen hulle gewen.
"Hulle sal wil kom om 'n punt te bewys dat hulle eintlik verlede jaar moes gewen het."
Die Arende moes by tye keer vir die vale as die Kavaliers aan die hardloop gegaan het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’