GEORGE RUGBYNUUS - Die Super Stars-rugbyklub van Touwsranten speel Saterdag in die eindwedstryd van die kusstreekliga in Brandwag, Mosselbaai. Dit is die eerste keer dat hierdie span dit regkry om so ver te vorder.
Hulle speel Saterdag teen die Hungry Lions van Klein-Brakrivier.
Volgens hul afrigter, Pieter Beukes, is dit die eerste keer in die klub se 19-jarige bestaan dat hulle tot die eindronde deurdring. Hulle het verlede seisoen na die kwarteindronde deurgedring.
Die klub moes die laaste ses wedstryde tot die aanloop van die finale wen, waarvan die kwarteindronde en die halfeindronde op ander velde plaasgevind het.
"Ons is verskriklik opgewonde. Die klub bestaan slegs uit 30 spelers wat 20 wedstryde moet speel. Ons is absoluut reg vir die naweek. Ons glo ons is slaggereed om goed te vaar in die finale," het Beukes gesê.
Beukes hoop om baie ondersteuners Saterdag te sien en vra dat almal rooi aantrek vir die Super Stars. Die spelers gaan immers self spoggerig lyk in hul splinternuwe rugbytruie wat hulle Maandagaand van hul wyksraadslid, Marlene Barnardt, ontvang het.
Die truie is gekoop uit wyksfondse wat deur die George-munisipaliteit geallokeer word.
"Vir die eerste keer in vier jaar het hierdie manne nuwe truie waarmee hulle Saterdag in die eindwedstryd gaan uitdraf," het sy gesê.
Die Super Stars-rugbyklub van Touwsranten speel Saterdag in die eindwedstryd van die kusstreekliga in Brandwag, Mosselbaai. Dit is die eerste keer dat hierdie span dit regkry om so ver te vorder. Hulle speel Saterdag teen die Hungry Lions van Klein-Brakrivier. Cheslin James (links, onderkaptein), Nathan Buys (kaptein) en Pieter Beukes (afrigter) van Super Stars-rugbyklub in Touwsranten glimlag breed oor die splinternuwe rugbytruie wat hul wyksraadslid, Marlene Barnardt, aan die span oorhandig.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'