Gallery
SUID-KAAP NUUS - Die DHL-Stormers het Saterdagmiddag die krane behoorlik oopgedraai in hul opwarmwedstryd teen die SWD-Arende op Outeniquapark.
Die Stormers het 11 drieë gedruk in hul wegholoorwinning van 77-0. Die besoekers het rustyd met 35-0 voorgeloop.
Die Stormers skop hul Superrugby-veldtog op Saterdag 17 Februarie af teen die Jaguars in Kaapstad.
Die president van die WP-rugbyunie, Thelo Wakefield, het na die wedstryd gesê: "Dit is altyd ‘n belewenis om na Outeniquapark te kom, want die gees van die toeskouers is altyd ongelooflik. Wat vanjaar meer spesiaal maak is dat ons ons senior Springbokke na die Suid-Kaap kon bring om deel te wees van toeskouers."
Die Stormers se groot generaal was 'n leenspeler van die Griekwas, George Whitehead (losskakel), wat in die nat omstandighede altesame 15 punte aangeteken het, wat vyf doelskoppe en 'n drie ingesluit het.
Die Springbok-heelagter, Sergeal Pietersen, was ook gewild onder die skare.
SP Marais (buitesenter), Paul de Wet (skrumskakel), Sihle Njezula (linkervleuel) en die plaasvervangers Herschelle Jantjies, Joshua Stander, Rikus Pretorius en David Kriel het ook uitgeblink vir die besoekers.
Voorlangs het Salmaan Moerat (slot) en Juarno Augustus (agtsteman), wat albei verlede jaar vir Suid-Afrika se o.20-span gespeel het, het die vonk verskaf. Dit is talentvolle spelers wat nog diep spore in SA rugby kan trap.
Jacobus Wiese (flank) het ook 'n barshou gespeel.
Vir die tuisspan het hul nuwe aanwins van die Goue Leeus, Fabian Booysen (agtsteman) en Adi Jacobs (linkervleuel) die oog gevang.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'