Update
OUDTSHOORN RUGBYNUUS - "My intensie was nooit om Mario Rabie of Everton Manewil met die twee gebreekte bottelnekke te steek nie."
Pass sê dat hy bewus is dat dit landswyd behoorlik op sosiale netwerke gons oor sy geweldadige optrede verlede week op die rugbyveld.
Sy verweer is dat Rabie hom herhaaldelik gedurende die wedstryd met geniepsige spel bygekom het.
"Op 'n stadium in die wedstryd het ek en Rabie albei vir die losbal op die grond meegeding. Ek het die bal beskerm sodat die aangewese skrumskakel die bal na die agterlyn kan voer. Rabie het egter sy knie moedswillig in my gesig gekap nadat die bal lankal reeds uit was. Hy het ook talle kere gedurende die wedstryd in my oë en neus met sy vingers gekrap.
"Ek het die skeidsregter se aandag op hierdie onwettige taktiek probeer vestig, maar hy het net gesê, "play on"."
Op 'n vraag waarom hy steeds na sy woonbuurt toe gehardloop het om sy vriende te gaan haal nadat Spring Roses se bestuur hom kalmeer het, het hy geantwoord dat hy gevoel het dat hy alleen teen 'n hele span veg.
Volgens Pass het verskeie All Black-spelers sy ma se privaatdele gevloek en hom gedreig met vergelding.
"Ek wou net seker maak dat ek my punt gemaak het en dat ek ook ondersteuning het indien enige een my wou aanvat.
"Ek besef egter dat my geweldadige optrede teen die gees van die spel is en dat ek Spring-Roses-rugbyklub se beeld skade berokken het.
"My gedrag kan nie geregverdig word nie en daarom vra ek verskoning vir die gemeenskap en in besonder vir my spanmaats.
"Vieslike gerugte dat ek onder die invloed van dwelms (onder andere tik) was, is totaal onwaar. Ek daag enige persoon of instansie uit om my medies te kom toets sodat ek my onskuld kan bewys."
Rabie en Manewil het intussen kriminele klagtes teen Pass aanhangig gemaak.
Oor sy 10 jaar-skorsing van Spring Roses het hy gesé dat hy geappelleer het teen sy "straf" omdat dié klub sy lewe is.
Pass sé dat hy van kleins af rugby speel en dat hy oorgehaal was om vanjaar vir die SWD- Arende gekies te word.
"Omdat ek lief is vir Spring Roses beoog ek om alles in my vermoë te doen om vergifnis by my familie te verdien," het hy beklemtoon.
Pass het ook openlik erken dat hy woedeprobleme het en dat hy dit sal waardeer as Spring Roses-rugbyklub of die SWD-rugbyunie hom in dié verband met professionele hulp kan bystaan.
"My rekord tot dusver in my rugbyloopbaan is silwerskoon, en omdat ek nog jonk is, voel ek dat daar sommer nog hope rugby binne my is. Ek is bereid om enige kursusse of beradingsklasse by te woon om my 'n beter mens en speler te maak," het Pass gese.
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo, Hessequa, Tuinroete nuus'