Vier van die 11 lede is voormalige Arende-spelers waaronder die oud-Springbok en voormalige Bulle-kaptein, Anton Leonard wat besluit het om dit wat hy uit rugby gekry het weer terug te ploeg om jonger spelers te help. Die ander oud-Arende is Rynard van As, Keith Meyer en Manie du Toit.
Leonard sal verantwoordelik wees vir die verdediging en struktuur van die span, Van As is spanbestuuurder en verantwoordelik vir die span se vaardighede, Meyer is hulpafrigter wat die agterlyn onder sy vleuels sal hê, en Du Toit sal verantwoordelik wees vir die span se geestelike versorging.
Die res van hoofafrigter Johann Lerm se span is Eddie Myners (voorspelers), Innis Erasmus (mediese bestuurder en fisiotera-peut), Quinton Rall (kragkondisioneerder), Elrinda Williams (masseuse), Granville Carelse (spanbeampte), Willie Snyman (kondisioneringsafrigter) en dr. Colin Katzen (spandokter).
Lywige oefenprogram
Tydens die bekendstelling van die afrigtingspan het Lerm gesê dat hierdie span die Arende gebalanseerd sal voorberei vir die uitdagings wat wag. Hy het ook gesê dat die Arende-groep reeds in die proses is om só volledig voor te berei vir die kompetisie.
"Ons het reeds ‘n lywige oefenprogram uitgewerk en ek kan die versekering gee dat die spelers oorgehaal is om ten volle daarvan gebruik te maak. Die span is positief en het die wil om hul beste te gee," het hy gesê.
Leonard het weer gesê dat dit belangrik is dat elke speler in die groep inkoop en die span se belange eerste stel.
"Dit is belangrik dat elke speler positief is en homself bereid verklaar om te alle tye net sy beste te gee.
"In die professsionele arena is elke span baie goed voorberei en ons sal moet sorg dat ons van die bes voobereide spanne is. Ons het nie groot name nodig om sukses te behaal nie, maar moet alle moontlike talent in die groep tot die maksimum benut en dit kan net gebeur as almal so goed as moontlik voorberei is."
Die hoof- uitvoerende beampte, Willie Small, het gesê dat die media in die laaste tyd baie negatief oor die Arende en SWD Rugby berig het, maar dat die probleme in die unie aan die verlede behoort en dat positiewe dinge van nou af gaan gebeur.
Lerm sê dat daar tans ‘n positiewe en oop verhouding tussen die spelers en bestuur heers.
"Ons begin op 12 Junie met ons voor-seisoense fase waartydens verdediging baie aandag gaan kry. Die spelers gaan ook drie teoretiese sessies per week deurloop.
"Na afloop van die oefenprogram wat op 27 Junie ten einde loop, sal elke speler aan ‘n volledige toets onderwerp word om te sien waar ons staan," het hy gesê.
Op 2 Julie kom die span in ‘n vriendskaplike wedstryd teen Griekwas op óf George óf Mosselbaai te staan.
Vanaf 5 tot 11 Julie is die span op ‘n ontwikkelingstoer en speel onder andere op 7 Julie ‘n vriendskaplike wedstryd teen SWD o/21 en op 10 Julie teen die Oostelike Provinsie in Knysna of Plettenbergbaai.
Die eerste wedstryd in die Eersteliga vind op 24 Julie teen die Grens Bulldogs plaas.
Die Arende-groep bestaan tans uit 21 gekontrakteerde spelers en 22 plaaslike klubspelers.
Lerm glo dat die groep ‘n sterk basis van senior spelers het wat ‘n groot bate is.
Artikel en foto's: Jannie Meyer
.jpg)
Die SWD Arende se afrigtingspan saam met die president, Hennie Baartman (tweede van regs voor) en die HUB, Willie Small (links agter). Voor sit van links Elrinda Williams, Johann Lerm en Anton Leonard. Agter staan Quiton Rall, Innis Erasmus, Rynhard van As, Granville Carelse, Bevin Fortuin (k) en Eddie Myners. Afwesig: Manie du Toit, Willie Snyman en dr. Colin Katzen.