RUGBY NUUS - Skeidsregters sal Saterdag 19 Augustus in alle geskeduleerde rugbywedstryde van skole en klubs in die SWD optree, sê Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby.
Hy het vanoggend by navraag kommentaar gelewer oor gerugte dat skeidsregters gaan weier om Saterdag in wedstryde op te tree.
Dit hou blykbaar verband met onlangse voorvalle tydens en na wedstryde waar toeskouers na bewering skeidsregters geteiken het. Brinkhuis het aan George Herald gesê hy het ook sulke gerugte gehoor, maar hy dra nie kennis van enige beplande optrede van skeidsregter nie.
"Dis nêrens met ons bespreek nie."
Volgens hom was daar Maandagaand, 14 Augustus, 'n vergadering tussen die skeidsregtersvereniging en die unie. Tydens die vergadering is onder meer aandag gegee aan toeskouergedrag teenoor skeidsregters by wedstryde.
Die unie het daarna 'n skrywe aan die klubs uitgestuur waarin duidelik gewys word op die veiligheidsaspekte. Dit moet in plek wees om die veiligheid van skeidsregters, klubs, beamptes en spelers te verseker.
*Sodra kommentaar van die SWD Skeidsregtersvereniging ontvang word, sal dit bygewerk word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’