Gallery
GEORGE RUGBYNUUS - Die Premierliga-kampioen, Progress, het Saterdagmiddag op sy tuisveld in die Premierliga-kragmeting teen George soos 'n Houdini van ouds in die doodsnikke van die wedstryd uit die kake van 'n nederlaag ontsnap.
Die skeidsregter, Delberth November, het blatant gefouteer en sy aanvanklike beslissing vir 'n strafskop pale toe aan Progress omgekeer en 'n skrum toegeken. George was in daardie stadium met 39-35 voor met die wedstryd so te sê verby.
Progress kon toe van die skrum af in die hoek gaan druk om die kragmeting met 'n enkele punt te wen.
November het ná die tyd erken hy het 'n fout begaan en dit glo ook aan George se kaptein, Francois Kemp, gekommunikeer.
Dit het George en sy ondersteuners behoorlik warm onder die kraag gehad, want dis nie die eerste keer vanjaar wat hulle onder swak skeidsregterbeslissings deurloop nie. En die verloortelling bly op die boeke, swak beslissing ten spyt.
Perez Julyan, president van George-rugbyklub, het aan die George Herald gesê dis tragies dat sulke dinge in die Premierliga moet gebeur siende dat daar by elke klub soveel ure se harde werk ingesit word.
Henry Wolhuter het vir George 14 punte met die skopskoen aangeteken met vier doelskoppe en twee strafskoppe. Progress het in die doodsnikke met 40-39 gewen.
"Vir enige span is 'n swak beslissing wat die gang van 'n wedstryd bepaal 'n groot teleurstelling om te verwerk en veral as dit Saterdag na Saterdag gebeur dat sekere skeidsregters die wen wil bepaal op 'n veld, het ek min hoop vir rugby."
Perez sê 'n mens kon dit nog verstaan as die skeidsregter nou 'n beginner was, maar Delbirth is 'n gerespekteerde skeidsregter waarvoor hy persoonlik baie respek het en wat al in SWD-rugby diep spore as 'n skeidsregter getrap het.
"Dis net jammer dat so 'n eenvoudige beslissing soveel ongelukkigheid en onregverdigheid veroorsaak. Dit maak ons as bestuur en die spelers moedeloos en mens vra jouself af of dit die moeite werd is om nog deel te neem aan die liga."
Die persepsie bestaan dat George, met sy oorwegend wit spelers, uitgesonder word deur eenogige skeidsregters wat daarop uit is om hulle uit 'n wedstryd te blaas.
"Maar dis beslis nie die geval nie," sê James Speelman, voorsitter van die SWD-skeidsregtersvereniging. "George word oor dieselfde kam as die ander klubs geskeer. Skeidsregters maak soms foute en dis net jammer 'n verkeerde beslissing het George Saterdag weer gekelder. Ons kan ongelukkig niks doen aan die eindtelling nie."
Hendrik Kriek storm vorentoe met die bal met 'n horde verdedigers van Progress wat hom inwag.
George se vyf drieë is deur Christiaan Willemse, Terence Venter, Francois Kemp,
JJ du Toit en Christopher Richardson gedruk terwyl Henry Wolhuter met vier doelskoppe en twee strafskoppe in die kol was. George se Groceries Express-spelers van die wedstryd was Francois Kemp (voorspeler) en Christiaan Willemse (agterspeler). Terence Venter (vleuel) het die beste drie van die dag gedruk.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'