Dié nuwe sewestoernooi, wat vir eers net plaaslike rugbyklubs in die SWD gaan betrek, is Dinsdagaand amptelik deur die uit
voerende burgemeester, Charles Standers, van stapel gestuur.
Sestien klubs, waaronder die nuwe Premierliga-kampioen, Evergreens, Progress, Blanco United, Silver Stars, Crusaders, Black Lions en Geelhoutboom gaan op Saterdag 29 November op Outeniquapark om 'n prysgeld van R25 000 meeding.
Die Burgemeesters-sewes vervang as't ware die Premier-sewesrugbytoernooi, wat nie meer aangebied gaan word nie. Sakelui in George, die munisipaliteit en die SWD-rugbyunie gaan saamspan in 'n grootskaalse poging om nuwe lewe in sewesrugby in dié geweste te blaas met die langtermyndoelwit om George as 'n sportmekka in Suid-Afrika te vestig.
Die drie stuks het by die amptelike bekendstelling van die toernooi 'n ooreenkoms onderteken om hul volle gewig agter die Burgemeesters-sewes in te gooi. Die sestien rugbyklubs het ook skriftelik - sommige mondelings - 'n soortgelyke onderneming gegee.
Standers het in sy beleidsrede tydens die bekendstelling dit duidelik gestel dat die George-munisipaliteit sewesrugby nog altyd ondersteun het en sal bly voortgaan om dit te doen. "Selfs toe die nuus rugbaar geword het dat die Premier-sewestoernooi nie meer aangaan nie, wou ons sewesrugby in een of ander vorm laat voortbestaan. Die Burgemeesterstoernooi vervul nou daardie rol en is deel van ons langtermynplanne om, deur sport, die stad as 'n sportmekka in Suid-Afrika te vestig."
Elkeen van die sestien deelnemende klubs gaan deur 'n plaaslike maatskappy ondersteun word. Dié toewysing sal aanstaande week vroeg aangekondig word ná 'n trekking om te bepaal wie vennote is.
Op die dag van die toernooi sal die betrokke maatskappy die rugbyklubs ondersteun met eetgoed en bemarking. Elkeen van die rugbyklubs sal boonop R2 500 in kontant ontvang.
Nog 'n bonus is dat die tien belowendste spelers na die Stellenbosse Rugbyakademie genooi word om vir 'n week onderrig te word. Dit sal geen verrassing wees as 'n blink juweel of twee uit die groepie opgediep word om dalk by die akademie in te val nie.
Dié grootse poging tussen George-besighede, plaaslike regering en sport is lofwaardig en voorspel net goed vir rugby - en sport in die algemeen. Op die langtermyn kan almal, besighede inkluis, net daarby baat as die Burgemeesters-sewes entoesiasties omarm word.
Plaaslike sakelui, die plaaslike regering en rugby gaan saamspan om 'n nuwe sewesrugbytoernooi in George aan te bied. Tydens die amptelike bekebdstelling Dinsdagaand van die nuwe Burgemeesters-sewestoernooi, het dié drie partye 'n ooreenkoms onderteken om saam te werk om dié toernooi suksesvol aan te bied. Van links is dr. Willie Cilliers, president van die George Sakekamer, Charles Standers, uitvoerende burgemeester van George, en Johan Prinsloo, uitvoerende hoofbestuurder van die SWD-rugbyunie. Agter staan Trevor Botha, munispale bestuurder. Foto: Hugo Redelinghuys
ARTIKEL EN FOTO: HUGO REDELINHUYS, GEORGE HERALD-SPORTREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinnroete nuus'