GEORGE RUGBYNUUS - Nog 'n man met sterk rugbyverbintenisse in die Suid-Kaap, het groener weivelde in Rusland gaan soek. Jonathan Botha, wat voorheen die George-rugbyklub afgerig het, is sedert Maart die voorspeler- en hulpafrigter van die Strela-rugbyklub in Tatarstan, Rusland.
Leighton Eksteen wat voorheen vir die SWD Arende uitgedraf het en Rynhard van As, voormalige afrigter van die Arende, is ook deesdae by rugby in Rusland betrokke.
Botha het George besoek en vertel van die groot nuwe uitdaging wat op sy pad gekom het. Alles het vinnig gebeur.
Hy het voorheen self rugby gespeel en as haker in die skrum gesak. Die laaste twee jaar het hy George afgerig. Vroeg vanjaar het 'n vriend, Ig van der Merwe hom gekontak. Ig het vertel dat JP Nel, wat voorheen vir die Blou Bulle gespeel het en deesdae die Strela-klub se hoofafrigter is, op soek is na 'n voorspeler-afrigter. Ig het vir JP van Botha vertel en die bal was aan die rol.
Botha het die pos aanvaar en moes voor 16 Maart in Rusland kom. Sy vertrek het ook ander aanpassings geverg en hy en sy verloofde, Natasja Kilian, moes hul troue uitstel.
Kilian, wat in George agtergebly het, het gesê dit is 'n aanpassing, maar sy gun dit vir Botha.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'