Gallery Video
GEORGE RUGBY NUUS EN VIDEO - Nie eers reën kon Saterdag die geesdrif by die o.13-rugbytoernooi van Laerskool Outeniqua demp nie. Altesaam ses skole van so ver as Worcester, het aan die toernooi, wat reeds Vrydagmiddag begin het, deelgeneem.
Die skole wat deelgeneem het was Outeniqua, George-Suid, Volschenk, Hartenbos, Wesbank en Worcester.
Sowat 250 spelers het aan die toernooi deelgeneem en altesaam sewe wedstryde is Saterdag gespeel. Vir die meerderheid spelers was dit die eerste keer in meer as 'n jaar dat hulle kaalvoet en in hul skole se rugbytruie, hul rugbytalente kon meet aan spelers van ander skole.
Streng Covid-19-regulasies is gevolg en geen toeskouers is toegelaat nie. Ouers en ondersteuners het egter innoverend te werk gegaan en soos in die ou dae by inryteaters die aksie vanuit hul motors van buite die sportterrein gevolg.
Die organiseerders het ook 'n stromings-diens verskaf waardeur van die wedstryde op die internet uitgesaai is.
Van die ouers en ondersteuners, wat die wedstryde van buite die terrein gevolg het, was baie opgewonde om daar te wees.
Riekie Clift het gaan kyk hoe haar seuntjie, John-Michael, uitdraf vir 'n span van George-Suid. John-Michael se sussie, Arrieka (10), het ook gaan kyk hoe haar boetie speel.
"Ons mag nie binne wees nie. Nou sit ons hier buite. Dit laat my dink aan die ou dae se inryteaters," het sy gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Die Gelderblom-egpaar, Dewald en Estie, het ook die rugby op 'n afstand van buite die skoolterrein deur die draad gevolg. Hul seuns, Aerron en Chistopher, het uitgedraf in die truie van Laerskool George-Suid. "Ons sal graag binne wil sit," het Dewald gesê.
André du Preez, organiseerder van die toernooi, het Maandag gesê dit was 'n groot sukses. As Covid-19-regulasies dit toelaat sal dit weer in die laaste kwartaal van die jaar aangebied word. Hy het die belangrikheid van sport by kinders benadruk. Sport ontwikkel karakter. In rugby byvoorbeeld ontwikkel dit dissipline.
In rugby is daar rolmodelle vir kinders, van die kinders het dit nie tuis nie.
Voorts leer sport kinders om al vroeg in die lewe hard te werk as hulle iets wil bereik. Sport help ook om van kinders uiteindelik beter landsburgers te maak.
Van die ouers en ondersteuners wat die rugby van die terrein buite die skool op 'n afstand gevolg het. Foto: Eugene Gunning
Die departement van basiese onderwys het gister, Woensdag, 19 Mei, aangekondig dat alle kontaksport in skole onmiddellik opgeskort word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'