GEORGE NUUS - PW Botha-kollege het in die rugbyderby teen Hoërskool York hul spiere gebult deur drie van die vyf wedstryde te wen.
Een wedstryd, tussen die o.16-panne, het met 12-12 gelykop geëindig.
PW Botha se o.14's het moedig probeer, maar York was net te sterk en het met 19-14 gewen.
PW Botha se o.15's het die bordjies verhang en York met 14-5 geklop.
York se o.19B-span het op 'n hoë noot afgeskop en teen halftyd met 21-7 voorgeloop.
Ná halftyd het PW Botha se twee jong afrigters, ST van der Merwe en Mikyle Roelfse, 'n paar slim skuiwe aangebring wat die puik wedstryd geswaai het.
York kon in die tweede helfte geen punte aanteken nie terwyl Jared Taite 'n driekuns aan drieë behaal het en PW Botha gehelp het om uiteindelik met 40-21 te seëvier.
Vir PW Botha het Alonzo Simons (2), Elgabio Steenberg (1) en Jared Tait (3) gaan druk. Lehogan Botha het 5 doelskoppe oorgesit.
Tait is aangewys as PW Botha se speler van die wedstryd.
Die wedstryd tussen die twee eerstespanne het vooraf vir 'n knop-in-die-keel oomblik gesorg toe die spelers van albei spanne mekaar spontaan in 'n kringetjie omarm het om hulde te bring aan Clive Biggs, 'n oud-onderwyser van York en groot gees in SWD-rugbykringe, wat gedurende die skoolvakansie oorlede is. Die spanne het ook 'n oomblik van stilte gehandhaaf vir Hanno Fourie, hulpafrigter van PW Botha, se vrou wat kritiek in die hospitaal is.
Die spannende wedstryd het aanvanklik wipplank gery, maar danksy rotsvaste verdediging het PW Botha teen rustyd met 14-0 voorgeloop.
Ná rustyd het York met 'n verwoede aanslag gekom en twee drieë gedruk waarvan een verdoel is.
Maar toe slaan PW Botha terug met Hencell September wat gaan druk in die hoek en Cuan Belele wat die drie verdoel.
Danksy skitterende samespel tussen PW Botha se voor- en agterspelers kon Justin November, puik heelagter, vir oulaas gaan druk vir 'n oorwinning van 28-12 oor York.
In 2015 het York verras deur PW Botha vir die eerste keer in die geskiedenis te klop, maar in 2016 het PW Botha die bordjies verhang op York se tuisveld met 'n oorwinning met een punt.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'