GEORGE RUGBY NUUS - Die SWD Premier-klubrugbyliga het sy eerste skok van die seisoen opgelewer toe die kampioen, Progress, verlede Saterdag op Oudtshoorn met 33-25 deur Bridgton geklop is.
Dit het behoorlik gegons op sosiale media oor die onverwagse glips en Progress-ondersteuners het van hulle laat hoor. Hoewel dit Progress se eerste wedstryd was en 'n lang seisoen nog voorlê, is dié uitslag net weer 'n bewys dat die kompetisie vanjaar wyd oop is. Nie net een of twee perde gaan in dié resies as volslae gunstelinge wegspring nie.
En die een span wat vanjaar sy stem gaan laat hoor, is Crusaders. Parkdene se spogspan het verlede Saterdag sy voorneme om vanjaar die liga te wen baie duidelik gemaak deur die nuweling, George, met 51-13 op te foeter. Dit was 'n kliniese vertoning deur sy voor- en agterspelers, maar hoegenaamd nie perfek nie en heelwat skaafwerk wag nog vorentoe. Maar Crusaders het 'n bulpak en genoeg diepte in die klub.
Christo du Plessis, wat vir die Arende uithalerspel op flank en agtsteman gelewer het, is eers ná rustyd opgestuur en dié het onmiddellik 'n groot impak gemaak. Hy kan vanjaar weer van groot waarde vir die uitgedunde Arende-span wees.
Slegte nuus vir die ander spanne is dat Crusaders nog nie eers vir Curtley Scheepers, een van die belowendste senters in die Suid-Kaap, ingespan het nie.
George, daarenteen, is trompop met die harde werklikheid van klipharde rugby op dié vlak gekonfronteer.
Dalk was die oorgang van die Presidentsliga na die Premierliga net daai een hekkie te hoog, maar dis nog gans te vroeg om alarmisties te wees.
George moes opdraf minus twee staatmakers, waaronder die bobaaslosvoorspeler Francois Kemp. Twee swaeltjies maak nou wel nie somer nie, maar as jou agttal uitgedun is, het dit wel 'n groot impak.
Barbarians het sy spiere gebult en Blanco met 46-18 geklop terwyl Heidelberg ook beïndruk het met 'n oorwinning van 45-14 teen Maori's.
Hier lê 'n opwindende seisoen voor en die stryd om die voorste plekke gaan nog interessanter verloop.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'