GEORGE NEWS - Die rugbyspan van Progress het Saterdagmiddag in gietende reën op die Rosemoor-sportterrein getoon dat hulle staal in hul pype het deur die gedugte Tygerberg in SARU se Goue Beker-kompetisie met 17 -15 te klop.
Progress was rustyd nog met 10-15 agter, maar in die tweede helfte mooi reggeruk.
Die tuisspan se spoedvraat, Fizel Fredericks (linkervleuel), is in die 27ste minuut van die wedstryd oor vir sy span se eerste drie na sterk lopies deur Xavier Scholtz (haker), Solomon Manxodidi (flank) en Luzane Williams (regtervleuel).
In die 35ste minuut is die flank Chumane Kema oor vir die tuisspan se tweede drie na 'n rolmaalbeweging. Die besluit van Progress se afrigtingskorps om net na rustyd die voormalige Arende-skrumskakel, Mzoxolo Dyantyi, speelkans te gee, het definitief vrugte afgewerp.
Dyantyi, wat die hele jaar voor gedraf het vir die tuisspan, het onmiddellik rustigheid onder die spelers gebring in die moeilike omstandighede.
Sy taktiese skoppies, samespel met voor- en agterspelers was vir sy span goud werd gewees.
Die tuisspan het in die tweede helfte alle afdelings van die spel oorheers. Veral in die skrums, waar hul twee vaskoppe gehaak het.
Tygerberg se doppie is in die 59ste minuut finaal geklink toe André Bernardo (slot) oor is vir die wenspan se derde drie nadat Alvin George (loskopstut) sterk gehardloop het.
Progress het rotsvas verdedig.
Die sterk vaskopstut van die wenspan, Bredni Bestenbier, (beter bekend as Potjie onder sy spanmaats) was ongetwyfeld die beste speler op die veld.
Hy is 'n sterke derduiwel wat Tygerberg laat kreun het in die skrums. In die vastelos en verdediging het hy ook die oog gevang. Potjie is aangewys as speler van die wedstryd.
Scholtz, Kema, Manxodidi en Wendell Pondo (agtsteman) het voorlangs gekook.
Waterbad. Jade Roelfse, losskakel van Progress, kry die bal onder beheer in 'n poel water met sy skrumskakel, Mzoxolo Dyantyi (liks) wat naderstorm om hom te ondersteun.
Progress se senterpaar, Werner Jacobs en Creswin Josephs het in die aanval en verdediging geskitter. Hul vleuels, Fredericks en Williams was ook gevaarlik. Williams se taktiese skopwerk en goeie verdediging was puik.
"Ons het in die sopnat toestande die druk goed verwerk. Die ouens het karakter getoon om na 'n agterstand van 0-10 terug te veg.
"My span het die kompetisie op 'n hoë noot afgeskop en ons is gereed vir die wedstryde wat voorlê. Ek wil net Progress se getroue ondersteuners bedank wat ons in die nat omstandighede ondersteun het," het Vincent Moos, hoofafrigter van Progress, na die wedstryd aan die George Herald gesê.
Chumani Kema (op grond) en Wendell Pondo bring 'n speler van Tygerberg grond toe met Alvin George wat toekyk.
Puntemakers
Progress 17 (10): Drieë - Fizel Fredericks (linkervleuel), Chumani Kema (flank), Andre Bernardo (slot). Jade Roelfse (losskakel) slaag met 'n doelskop.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'