RUGBY NUUS - Progress pak Saterdagmiddag om 15:00 die klubkampioen van die Westelike Provinsie, Valsbaai, op die Phillip Herbstein-sportterrein in Kaapstad in 'n kwarteindronde wedstryd van SARU se Goue Beker-kompetisie.
Vir die manne van Progress gaan dit 'n harde neut wees om te kraak.
Valsbaai, wat nog onoorwonne is in Groep B, het Saterdag vir die gedugte span van College Rovers op sy tuisveld met 15-14 geklop en is bo-aan die punteleer met 19 punte en 'n punteverskil van (+86).
Progress wat Saterdagmiddag deur Progress Uitenhage op die Despatch-sportterrein met 19-14 geklop is, sal sy sokkies moet optrek as hulle na Saterdag nog 'n sê in die kompetisie wil hê.
Swak dissipline het Progress, wat na 70 minute nog met 14-12 voor was, duur te staan gekom.
Die afstuur van die besoekers se sleutelspelers, Xavier Scholtz (haker), Chumani Kema (flank) en Werner Jacobs (binnesenter) met geelkaarte, het 'n groot invloed gehad op die uitslag van die wedstryd.
Geen span kan bekostig om vir 50 minute in so 'n belangrike wedstryd met 14 spelers te speel nie.
Naz Cupido, afrigter van Progress, het na die wedstryd aan die George Herald gesê: "Die drie geelkaarte het ons duur te staan gekom. Ons het baie kanse deur ons vingers laat glip om punte aan te teken. Die manne van Uitenhage het die wendrie in die 79ste minuut gedruk.
"Die wedstryd Saterdag teen Valsbaai is vir ons 'n groot uitdaging. My span gaan baie gemotiveerd wees om hul te meet teen die klubkampioen van die WP.
Luzane Williams (heelagter), senterpaar, Werner Jacobs en Ethan Williams, André Barnardo (slot) en Wynand de Necker (plaasvervanger voorry) was ons beste spelers."
'n Moontlike span vir Saterdag is: Luzane Williams, Lushiano James, Ethan Williams, Werner Jacobs, Fizell Fredericks, Jade Roelfse, Maxolo Dyantyi (kaptein), Wendell Pondo, Chumani Kema, André Jantjies, Gaywin Smith, André Barnardo, Wynand de Necker, Brianton Booysen en Fabian Joseph.
Afskoptyd (15:00).
ARTIKEL: ANDRÉ STANDER, GEORGE HERALD KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'