SUID-KAAP RUGBYNUUS - Die SWD se MicFin Premierliga-rugbykompetisie is vanjaar wawyd oop. Van die twaalf mededingende spanne het minstens nege 'n goeie kans om die uitspeelrondes te haal, maar dis nog ver in die verskiet.
Dis lanklaas wat dinge so onvoorspelbaar gelyk het en dis ook maar goed plaaslike rugbyondersteuners speel nie hier Superbru nie.
Silver Stars, Maori's en Jaguars sukkel nog om aan die gang te kom en dit sal iets besonders verg van dié drie klubs om onder die voorlopers in te skuif.
Die verrassingspakket van die seisoen tot dusver is die vertonings van die nuweling, George, en Crusaders, wat albei met 'n nuutgevonde intensiteit en toewyding hul spiere begin bult.
Ja, dis nog vroeg, maar dinge in albei kampe lyk belowend.
George het verlede Vrydagaand op Oudtshoorn 'n sterk vertoning teen Bridgton gelewer en die tuisspan met 27-21 geklop. Die terugkeer van die bulvoorspelers Janneman Stander, JJ du Toit en Francois Kemp het George woema gegee en met die oud-Arende skrumskakel Johan Steyn ook in die span is allerweë verwag dat George te veel skietgoed sou hê.
Twee geelkaarte en onverklaarbaar vreemde skeidsregterbeslissings kon George nie stuit nie. Bridgton kon nie die stortvloed strafskoppe wat aan hulle toegestaan is, almal in punte omskep nie. Hoe dit met eentonige reëlmaat toegeken is, word bevraagteken.
Crusaders het sy taai wegwedstryd teen Heidelberg met 26-21 beklink danksy sy groter ervaring wat hom deurgetrek het. Crusaders het hul nuwe sentersensasie, Michiel Laubscher, vroeg in die wedstryd met 'n heupbesering verloor en dit het die momentum effe versteur.
Om in die sterk wind en reën boonop vir twintig minute met 14 man klaar te kom, wil gedoen wees.
Vir Crusaders het sy voormalige Arende-haker Wayne Khan, uitgetroon en met sy stormlopies meters veld gewen. Vir Crusaders het sy kaptein, Layle Delo (stut), Arden Wesso (slot), Kerwin Apollis (skrumskakel), Reagan Rhodes (slot), Devron Jansen (flank) en Luzanne Williams (heelagter) ook die oog gevang.
Evergreens het Groot-Brak op sy tuisveld redelik maklik met 38-22 oorrompel.
Evergreens loop voor op die puntelys met 20 punte gevolg deur Barbarians (19), Crusaders (14), Groot-Brak (14) en George (11).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'