GEORGE NUUS - "Natuurlik wil ek graag weer klubrugby sien, maar daar is sekere realiteite." Só het die oud-Springbok Bevin Fortuin, gesê oor die meerderheidsbesluit van klubs in SWD dat klubrugby nie hervat sal word tot verdere kennisgewing nie. Hy steun die besluit.
Na die unie se besluit het dit bekend geword dat daar spelers is wat graag sal wil speel. Dit is algemeen bekend dat Fortuin 'n sagte plekkie vir rugby in die SWD het en dat hy graag die spel bevorder al het hy etlike jare ophou speel.
Hy het reeds op 'n vroeë ouderdom klubrugby in die SWD gespeel en dit het 'n belangrike fondament vir sy latere rugbyloopbaan gelê.
Volgens Fortuin is daar twee belangrike faktore wat in ag geneem moet word. Die finansies en die gesondheids-veiligheidsoogpunt. Daar is klubs wat finansieel sterk is, maar daar is klubs wat nie eers 'n borg het nie.
As daar wedstryde gespeel word, moet daar geld wees. Dit gaan 'n klomp geld kos om wedstryde aan te bied. Geen toeskouers mag wedstryde bywoon nie en op die oomblik is die klubs afhanklik van hekinkomste. "Wie gaan vir al die kostes betaal om al die regulasies na te kom?" wou hy weet.
Daar moet ook in gedagte gehou word dat die klubs betrokke is by die amateurkode van die spel. Rugby is nie die spelers se voltydse beroepe nie.
As die spelers afgesonder moet word voor 'n wedstryd, sal hulle al van die Woensdag af verlof by hul werkgewers moet vra en eers Maandag kan terugkeer.
Dit gaan moeilik wees vir spelers om verby hul werkgewers te kom. Daar is al mense wat hul werk verloor het en dit gaan moeilik wees om af te kry om in isolasie te gaan voor 'n wedstryd.
Fortuin glo dat SWD-rugby en belanghebbendes na planne kyk om rugby aan die gang te hou.
Hy sal graag rugby wil sien en op die oomblik ly rugby in die SWD sonder die wedstryde. Hy besef daar is jong opkomende talent by klubs wat nadelig geraak word en die spelers het 'n knou gekry. Sy advies aan hulle is: "Wees geduldig. Jou kans
gaan kom." Net soos op nasionale vlak algemene aanpassings gemaak is om met die pandemie saam te leef, moet dit ook op sportgebied gebeur.
Niemand weet immers hoe lank dit nog gaan voortduur nie.
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'