GEORGE NUUS - As jy in George se strate stap en iemand sien wat soos die oud-Springbok, Zane Kirchner lyk, sien jy nie sy dubbelganger nie.
Zane, wat in George grootgeword en die afgelope paar jaar in die buiteland rugby gespeel het, is terug. Vir eers. En dis nie uitgesluit dat hy weer gaan rugby speel nie.
Die 35-jarige Kirchner het onlangs teruggekeer na die plek waar sy rugbyspelery reeds op skool begin het. Sy vrou, Tasneem en hul dogtertjie, Ama-Mira (6) is ook hier.
Kirchner het eers op provinsiale vlak sy merk vir Griekwas gemaak en daarna vir die Blou Bulle. Hy het Suid-Afrika tussen 2009 en 2015 altesaam 31 keer op die rugbyveld verteenwoordig. Die afgelope paar jaar het hy in Ierland en Wallis die veld aan die brand gespeel.
Kirchner is nie iemand wat maklik oor homself gesels nie. Hy het aan die George Herald vertel een van die groot redes waarom hy en sy gesin na Suid-Afrika teruggekeer het, is omdat sy kontrak in die buiteland verstryk het.
Toe die gesin destyds na die buiteland vertrek het, het hulle ook besluit dat hulle sal terugkeer wanneer hulle dogtertjie sewe jaar oud is en met skool kan begin. Hy het nog nie finaal besluit oor wat hy in die toekoms gaan doen nie en om weer rugby te speel is beslis nog 'n moontlikheid. "Ons hou nou vakansie. Ek sal nie omgee om nog so 'n seisoentjie te speel nie."
Hy is bly om terug te wees en het die mooi natuurskoon van George gemis. Oor een ding is daar geen twyfel nie. Dit was een van die beste besluite wat hy ooit geneem het om in die buiteland te gaan speel. Daar kon hy teen die topspanne van die Noordelike halfrond speel.
In die buiteland het hy ook meer tyd gehad om saam met sy gesin deur te bring en kon hy belangrike mylpale soos sy dogtertjie se skoolkonserte beleef.
Die weer was wel 'n uitdaging. Huis toe het hy darem ook nie te veel verlang nie. Hy was immers bietjie ouer as 17 jaar oud toe hy sy ouerhuis verlaat het om in 'n ander provinsie te gaan rugby speel.
Hy benadruk rugby is vir hom 'n loopbaan, maar dis nie al wat hy is nie.
Tasneem kom oorspronklik van Kimberley. Sy sê die eerste ses maande in die buiteland was destyds moeilik, veral met 'n nuwe baba in die huis.
Ook sy is bly om terug te wees en hou van George. Die laaste ses jaar was hulle nie een Kersfees tuis nie.
Zane Kirchner, sy vrou Tasneem en Bevin Fortuin. Kirchner en Fortuin is al van kleins af vriende. Foto: Eugene Gunning
Bevin Fortuin, jare lange vriend van die Kirchner-familie, het gesê hy en Zane ken mekaar al van kleins af. Oor die jare het hulle kontak gehou.
Volgens hom is Zane 'n baie stil mens. Hulle het saam al wonderlike tye beleef.
"Toe ek destyds in 2007 die tweede keer in die Springbok-groep ingesluit is, het ons dit nog saam gevier met slaptjips en 'n brood."
Former Springbok rugby player Zane Kirchner is back in George after a number of years playing rugby in Ireland and Wales. He recently returned to the country with his wife and daughter (6) after his overseas contract expired. He is still considering his options and it is possible that he might play rugby again.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'