GEORGE NUUS - Nou is dit oorlog. SWD-rugby het vanmiddag, 8 Junie, ‘n dispuut met SA Rugby (Saru) verklaar.
Dit volg nadat die halfeindstryd in die Mzansi-reeks tussen SWD Arende en die Boland Kavaliers, wat veronderstel was om die naweek plaas te vind, tot “aanstaande week” uitgestel is.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby het kort gelede aan George Herald bevestig dat ‘n dispuut verklaar is. Die saak word op arbitrasie geneem vir beslissing.
Brinkhuis het gesê SWD wou gehad het die wedstryd moes môreaand gespeel word.
SWD en die George-rugbyklub maak gesamentlik gebruik van Outeniquapark. Die gebruik is dat die Arende Vrydae hul wedstryde daar speel en George syne op Saterdae.
Boland wou hê die wedstryd moes Saterdag gespeel word en Saru het hulle blykbaar gesteun.
SWD se standpunt is dat erkenning gegee moet word waar ‘n span op die punteleer is.
Brinkhuis wou nie spekuleer oor wanneer die halfeindstryd nou sal plaasvind nie.
Hy het bygevoeg dat in gedagte gehou moet word dat die huidige Arende-spelers gekontrakteer is tot 30 Junie. Tegnies kan hulle dan na 30 Junie nie meer vir die Arende speel nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’