Gallery Video
GEORGE RUGBY NUUS EN VIDEOS - Die SWD Arende is nie in sak en as, nadat hulle Vrydag 18 Junie 50-17 verloor het teen die Valke in sy eerste wedstryd van die seisoen in die 1ste divisie van die Curriebekerreeks nie.
Trouens, die afrigter van die span, Eddie Myners, glo dit kan vorentoe net beter gaan. Die span se fokus is reeds op Saterdag 26 Junie se wedstryd teen die Luiperds in Potchefstroom.
Vrydag se eindtelling (Valke 50 - Arende 17) het nie glimlagte op die gesigte van die Arende se ondersteuners gebring nie. Toeskouers is nie toegelaat op Outeniquapark nie, maar as hulle egter wel daar kon wees, sou hulle gesien het dat die Arende sterk gestaan het in die eerste helfte.
Toe die manne na sowat 40 minute 'n ruskans vat, was die rustydtelling 7-5 in die guns van die Valke. Na rustyd het dinge bietjie anders verloop en die Valke het die punte ingeryg.
'n Tevrede JP Immelman, hoofafrigter van die Valke, het na die wedstryd gesê die Arende het 'n goeie span gehad. Die Valke het aan die begin van die wedstryd harde bene gekou. Een van die redes vir die Valke se sukses is dat die span se kondisionering op 'n goeie vlak is.
Myners het gesê die Arende het verwag dat dit nie 'n baie maklike wedstryd gaan wees nie.
Fotogalery: SWD Arende verloor teen Valke
'n Gespook om die bal te beheer tydens die wedstryd. Hier is Deon Joubert (slot) en Stephan Leonard (haker) van die Arende midde in die stryd. Foto: Joggie van Staden
Hy het die Valke krediet gegee vir hul vertoning en het geen verskonings gehad vir sy span se nederlaag nie.
Volgens Myners sou hulle baie graag die eerste wedstryd wou wen. Daar is 'n paar faktore wat in aanmerking geneem moet word oor Vrydag se wedstryd. Voor die wedstryd moes twee van die spelers wat gekies is, onttrek. Vir ses van die Arende se span was dit die eerste wedstryd op die vlak.
Kyk twee video's hieronder:
Hy was voor die wedstryd bekommerd oor die span se wedstrydfiksheid. In die tweede helfte het dit begin deurkom. Die Valke daarenteen het voor dié wedstryd reeds vyf ander wedstryde gehad. "Dit was ons eerste volwaardige wedstryd."
Die Arende het 'n goeie eerste helfte gehad en goed gedoen in die lynstane en die skrums. Altesaam drie strafskoppe (al drie was teen van die regoppale) het misluk. As dit oor was, kon die Arende rustyd voorgeloop het.
Die span het die afgelope paar dae in alle erns voorberei vir die wedstryd teen die Luiperds. "Dis 'n baie moeilike hekkie om teen hulle in Potchefstroom, hul tuisveld, te speel. Ons berei voor en glo dit sal beter gaan."
Die SWD Arende hou kajuitraad kort nadat die Valke punte teen hulle aangeteken het. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'