Update
GEORGE NUUS - Wanneer die SWD Arende môreaand, Vrydag 8 April, teen die Boland Kavaliers op Outeniquapark uitdraf kan aanvaar word dat 'n verbete stryd wag.
Die Arende het verlede Vrydagaand sy eerste wedstryd in die eerste divisie van die 2022 Curriebekerreeks met 15 - 34 teen OP Olifante verloor.
Die Kavaliers is in dieselfde bootjie en het met 26 - 32 teen die Valke verloor. Beide spanne sal dus graag die vreugde van oorwinning wil smaak.
Tydens verlede Vrydagaand se wedstryd het die Olifante vyf keer agter die doellyn gaan kuier en die Arende drie keer. Vir die Arende het Adriaan Jacobs, Dillin Snell en Kirsten Heyns drieë gedruk.
Die Olifante het in die eerste helfte 'n effense oorhand gehad, maar die Arende het in die tweede helfte verbete teruggeveg.
Nadat die eindfluitjie geblaas het, is baie nabetragting gehou oor waarom die Arende nie die pyp kon rook nie.
Anton Moolman, afrigter van die Arende, het Maandag aan George Herald gesê daar is geen verskonings nie. Die Arende se vertoning in die eerste helfte was nie goed nie. "Ons was nie goed in die vaste fasette nie en het nooit aan die gang gekom nie."
Die SWD Arende en OP Olifante in aksie tydens Vrydagaand se wedstryd. Foto's: Eugene Gunning
In die tweede helfte het dit beter gegaan. Hy is tevrede dat sy span drie keer agter die doellyn gaan kuier het. "Mens kon van die span se aanvallende spel sien."
Dis nie nou 'n kwessie van terug teken-bord toe nie. "Ons het planne in plek gesit. Ons moet glo in ons sisteme en werk. Die span moet die bal deur fases neem en aanvallend speel."
Wat môreaand se wedstryd betref, het hy gesê dis 'n belangrike wedstryd. Dis 'n tuiswedstryd. 'n Span het net 'n bepaalde hoeveelheid tuiswedstryde. "Ons sal graag die punte wil kry met die tuiswedstryde. Boland is in dieselfde bootjie as ons. Hulle soek ook 'n eerste oorwinning."
Volgens hom is die spelers teleurgesteld in hul vertoning verlede week. "Die spelers soek prestasie."
Môreaand se wedstryd begin om 19:00. Dit word voorafgegaan deur 'n wedstryd tussen SWD o. 20 teen Boland o. 20 wat om 16:30 begin.
Bevin Fortuin, oud-Springbok en sy seun, Aaron-James, was onder die mense wat Vrydagaand se wedstryd op Outeniquapark bygewoon het.
Verwante artikel: Die Arende val vas
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'