SUID-KAAP RUGBYNUUS - Vir die SWD Arende is daar weer 'n sprankie hoop dat hulle die uitspeelrondes van die SuperSport-uitdaagreeks kan haal ná 'n broodnodige wegsege oor die Grens Bulldogs.
Maar, en dis 'n groot maar, dan sal hulle Vrydagaand op Outeniquapark met die Boland Kavaliers moet afreken.
En dit gaan bloedsweet kos. Die Bolanders is stert in die lug na hul gelykopuitslag (24 elk) verlede Saterdag teen die voorlopers, die Westelike Provinsie, asook die wete dat hulle reeds vroeër in 'n tuiswedstryd met die Arende afgereken het.
Die Boland Kavaliers het nou maar eenmaal die nare gewoonte om sy teenstanders se doppie te klink.
Tog is hulle in dieselfde bootjie as die Arende: 'n nederlaag sal die einde van die pad vir albei spanne beteken. So wrintiewaar, beter motivering om 'n wenvertoning te lewer kan mens nie voor vra nie.
Mens kan dus met 'n redelike mate van sekerheid voorspel dat Vrydagaand se tweestryd op Outeniquapark 'n oorlog in die kleine gaan ontketen. Hard, meedoënloos, ongenaakbaar, selfs erger.
Dit sal die wysheid van Salomo verg om 'n wenner hier te voorspel en selfs dit gaan 'n taai kopkrapper wees.
Neem mens die Arende se vertonings tot dusver in oënskou, is daar tog 'n paar positiewe elemente omtrent hul spel wat mens opgewonde maak:
- Hul verdediging verbeter weekliks en teen 'n omgesukkelde span soos die Grens het die Arende se damwal net twee keer gebars.
- In die vaste fasette en die skrums is daar ook 'n opwaartse kurwe by die Arende te bespeur en is die Grens daar goed opgedreun. Hier speel die nuweling-haker, Le Roux Baard, 'n reuse rol.
- Die Arende se skakelpaar van Johan Steyn, skrumskakel, en Robbie Petzer, losskakel, kombineer uitstekend en skop takties goed.
- Die Arende het 'n klompie puik spelers in die agterlyn: groot, sterk senters, spoed op die punte en in Leighton Eksteen, heelagter, daardie X-faktor.
- Maar, die belangrikste, die plaasvervangers het al telkemale dié seisoen bewys hulle draf nie op om moeë spelers af te los nie. Hulle draf op om 'n inpak te maak.
Kom hou Vrydagaand se koppestamp dop.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'