GEORGE RUGBY NUUS - Nog twee klubrugbyspelers van die SWD het die lang pad na Namibië aangedurf om vir die volgende paar maande rugby in dié buurland te speel. Hulle is die senterpaar van Crusaders, Curtley Scheepers en Jayden Onkers. Dit is moontlik dat hulle reeds die naweek daar kan uitdraf.
Vier ander spelers, Freginald Africa, Arden (Raffie) Wesso en Lwando Maxeke, almal van Crusaders, en Leegan Moos van Evergreens, het reeds verlede week die eerste keer vir hul nuwe klub, Reho Falcons, uitgedraf.
Die spelers speel nou tydelik in Namibië na 'n onlangse besluit van die meerderheid klubs in die SWD, dat klubrugby as gevolg van die Covid-19-situasie, tot verdere kennisgewing nie hervat sal word nie.
Mike Louw, visepresident van Crusaders, het Maandag bevestig dat Scheepers en Onkers in Namibië is. "Dis 'n baie goeie advertensie vir ons spelers. Dit wys ons spelers is in aanvraag."
Africa het in sy debuutwedstryd vir Reho Falcons agter die doellyn gaan kuier en 'n drie gedruk. "Dis goed dat die spelers in oefening bly. Die kans is steeds daar dat ons later vanjaar rugby hier sal kan speel," het Louw gesê. Volgens hom sal die spelers se betrokkenheid anderkant die grens dan vrugte afwerp.
Louw het benadruk dat die spelers net tydelik daar is. Net vir twee maande en dan kom hulle terug. "Hulle is reeds goeie spelers en hulle sal beter spelers terugkom."
Moos het telefonies vertel van hul eerste wedstryd. "In die eerste helfte het dinge nie uitgewerk soos ons beplan het nie, maar in die tweede helfte het dinge beter gegaan." Hulle het die wedstryd teen Trustco United 22-21 verloor.
Volgens Moos was dit aangenaam om weer te speel. Voor dit het hy vyf maande laas mededingende rugby gespeel. Hy het gesê Reho Falcons is besig om span te bou. "Ons help hulle." Hy glo dat in enige geleentheid wat 'n mens kry, jy iets kan leer.
Die volgende wedstryd is eerskomende Saterdag teen Unam. "Ons sien baie uit na die wedstryd."
Namibië, ons is hier. Die vier spelers van twee SWD-klubs verlede week na hul eerste wedstryd vir Reho Falcons. Van links: Arden Wesso, Legan Moos, Freginald Africa en Lwando Maxeke.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'