GEORGE RUGBYNUUS - Rugbyliefhebbers in die Suid-Kaap kry hul eerste dosis adrenalien vir die nuwe seisoen met die eerste reeks klubwedstryde wat Saterdag afskop.
George het ses spanne (uit die 12) wat in die SWD Superliga A meeding.
Multisure Crusaders, die heersende Premierliga-kampioen, sal weer wegspring as die voorste aanspraakmaker op die Superliga A-kroon, veral ná sy verowering van die SportbeatMicfin T20-rugbytoernooi verlede naweek toe hy Harlequins met 28-10 in die eindstryd afgeransel het.
Crusaders pak vir Jaguars op sy tuisveld in Parkdene en die besoekers uit Plettenbergbaai kan hulself staal vir 'n taai kragmeting.
Mens kan met 'n redelike mate van sekerheid voorspel dat die Saders die ene redelik maklik gaan wen.
Drie spanne hou 'n groot bedreiging in vir Crusaders: Evergreens en Progress, beide voormalige kampioene, en Heidelberg. 'n Steil bultjie wag Saterdag op Evergreens wat na die Plate moet reis om vir Bridgton aan te durf. Bridgton bly nou eenmaal 'n gevaarlike buiteperd op sy tuisveld en Pacaltsdorp se spogspan sal op al die spreekwoordelike silinders moet vuur as hy wengedagtes koester.
Progress draf op Sedgefield uit teen Eagles Stars, die nuweling in die kompetisie. Of die tuisspan se ster nog gaan skitter ná dié tweestryd is twyfelagtig, want Progress het net te veel skietgoed.
Heidelberg pak vir Barbarians tuis en dis altyd 'n uitdaging vir besoekende spanne om Heidelberg se singende toeskouers daar te trotseer.
Maori's en George gaan kragte meet in Heidedal en hier kan die hare waai. Nog 'n grote is in die Gaatjie waar Blanco teen Groot-Brakrivier te staan kom.
Vir die verloorders sal dit 'n sielkundige knou beteken so vroeg in die seisoen. Die wenners, daarenteen, sal hul lippe aflek vir die kragmetings wat voorlê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'