TUINROETE RUGBYNUUS - Die SWD Premierligakampioen, Multisure Crusaders, sal die nuwe klubrugbyseisoen wat Saterdag afskop met ekstra woema aanpak nadat hy pas die SportbeatMicfin T20-rugbytoernooi gewen het.
Multisure Crusaders het verlede Saterdag op Outeniquapark het Harlequins van Oudtshoorn in die eindstryd met 28-10 gelooi.
Harlequins het alle verwagtinge oortref en een van die gunstelinge, Evergreens van Pacaltsdorp, in die halfeindstryd met 20-15 geskok. Die telling was tot aan die einde van die wedstryd gelykop op 15-15.
Harlequins het eerste bloed geruik en met aanskoulike rugby die wendrie gaan druk en só die spyker in die doodskis van Evergreens geslaan.
Multisure Crusaders het met sy sterbelaaide span in dié toernooi deurgaans aanskoulike rugby gespeel en die titel verdien. Harlequins het moedig probeer, maar was nie opgewasse teen die kragspel van Crusaders nie.
Die oorwinning sal Crusaders stukrag gegee om die nuwe SWD Superliga A as die gunstelinge te laat wegspring.
Besoek die Sportbeat Rugby se Facebook-blad om al die aksiefoto's daar te sien.
Beplanning is reeds aan die gang om hierdie T20-rugbykompetisie 'n gereelde instelling op SWD se rugbykalender te maak.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'