Gallery
GEORGE RUGBY NUUS - Barbarians van Mosselbaai het Saterdagmiddag voor 'n groot aantal toeskouers op die Pacaltsdorp-sportterrein getoon dat hulle honger is om vanjaar die SWD se Groot Uitdaagbeker omhoog te hou. Die manne van Mosselbaai het in winderige toestande met 10-3 gewen nadat hul rustyd reeds met 7-3 voor was.
Die klipharde wedstryd, waar die humeure soms tussen die spelers opgevlam het, is goed gehanteer deur die skeidsregter, Ruhan Meiring.
Macdelin Saayman (losskakel) van die wenspan is net voor rustyd met 'n geelkaart van die veld gestuur vir 'n gevaarlike duikslag.
Barbarians se pak voorspelers het die grondslag vir die oorwinning gelê. Veral in die skrums het hulle die tuisspan harde bene laat kou.
Die wenspan se groot bate was hul skrumskakel, Morné Buis. Die oud-Arend het met taktiese skoppe en breekslae om die skrum baie druk op Evergreens geplaas. Sy samespel met sy voor- en agterspelers was ook uit die boonste rakke.
Jose Cunha (loskopstut), die slotpaar, Luvayne Fortuin en Fernando Fourie, en flanke, Aden Jones en Emile Moolman, het vir die wenspan voorlangs die vonk verskaf. Die spoedvraat, Justin Bhana (regtervleuel) en Saayman was agterlangs die besoekers se beste spelers.
Evergreens se beste speler was Kerwin Appollis (skrumskakel). Clint Miller (linkervleuel) en senterpaar, Kyle Hans en Marshall Boesak, het ook die oog gevang vir die verloorspan.
Emile Booysen (haker) en flanke, JJ du Toit en Riaan Tromp was hul beste spelers voorlangs.
Emile Moolman (flank) het die wenspan se enigste drie gedruk. Saayman slaag met die doelskop en Wahlon Anthony (heelagter) met 'n strafdoel.
C-Than Moos (losskakel) het vir Evergreens 'n strafdoel oorgeklits.
Heidelberg het sy opmars na die uitspeelwedstryde voortgesit deur vir Silver Stars op die Rosemoor-sportterrein met 34-19 te klop.
Marquit September, Andries Manho (2), en Jason Michaels is oor vir drieë vir die wenspan. Pieter van Rensburg Uys slaag met vier doelskoppe en twee strafdoele.
Vir Silver Stars is Jerovin Spandiel (slot), Ashwin Scott (plaasvervanger-senter) en Johannes Olivier (stut) oor vir drieë. Neillin Scott (heelagter) en Henwico Stal (plaasvervanger-losskakel) klits elk 'n doelskop oor.
Die verdedigende kampioenspan, Progress, het ses skitterende drieë gedruk in hul oortuigende oorwinning van 40-0 oor Blanco op sy tuisveld.
Cameron Lentoor (heelagter), Luzane Williams (buitesenter), Werner Jacobs (binnesenter), Fizel Fredericks (linkervleuel), Christo du Plessis (agtsteman) en Jermain Appolis (plaasvervanger) is vir die wenspan oor vir drieë. Lentoor slaag ook met vyf doelskoppe.
Crusaders van George het vir Bridgton op sy tuisveld in 'n naelbytstryd met 29-26 getroef.
Vir Crusaders is Wayne Claasen, Arden Wesso en Layle Delo oor vir drieë. Die wenspan het ook 'n strafdrie gekry. Henry Wolhuter slaag met 2 doelskoppe en 'n strafdoel.
Bradwin Wanies (regtervleuel), Wayne Julies (flank) en die plaasvervangers Lee Marco Pietersen en Llyle Metembo is oor vir drieë vir die tuisspan. J P Duvenhage (buitesenter) en Gino van Vuuren (losskakel) slaag elk met 'n strafdoel.
Groot-Brakrivier het op sy tuisveld vir Maori's van George met 36-7 geklop.
Marshelle Frans (heelagter) is vir Maori's oor vir 'n drie. Alton Tarentaal (binnesenter) slaag met die doelskop.
Amory Matroos (buitesenter, 2), Cheslyn Gelderbloem (agtsteman, 2), Ashwin Taaibos (flank), Grant Pokpas (plaasvervanger-slot), Roshwin Abrahams (plaasvervanger-heelagter), Henlinn Botha (heelagter) slaag met drie doelskoppe en Ashwill Frans (losskakel) klits 'n strafdoel oor.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'