Gallery
SUID-KAAP NUUS - Alhoewel die SWD Arende nie die halfeindronde van die Curriebeker se Eersteliga gehaal het nie, het hulle Vrydagaand die tipe rugby opgedis wat die meeste toeskouers weer sal teruglok na Outeniquapark.
Die Arende het 10 drieë gedruk in hul wegholoorwinning van 66-22 oor die OP Kings.
Die Boland Kavaliers het Saterdagmiddag by die agterdeur ingeglip op pad na die halfeindronde na hul naelbytsege van 26-24 oor die Welwitchias in Windhoek.
Die Arende, wat dit net-net nie gemaak het nie, het vyfde geëindig op die punteleer met 22 punte en 'n punteverskil van (+10).
Die Arende se afrigtingskorps verdien 'n pluimpie vir die ommeswaai in rugby in die Suid-Kaap.
Die Arende was voor die Curriebeker-seisoen in 20 wedstryde agtereenvolgens aan die verloorkant.
In die Curriebeker het hul oorwinnings oor die Valke, Grens Bulldogs, Welwitchias en die OP behaal. Teen die Luiperds het hulle gelykop gespeel.
Die skeidsregter, Samuel Msibi Vusumuzi, het vir Masixole Screech (slot) van OP, en die plaasvervangers van die Arende Jacques Vermaak en Freginald Africa met geelkaarte van die veld gestuur.
Die Arende se beste speler was ongetwyfeld hul losskakel en kaptein, Martin du Toit, en het drie keer gaan druk. Du Toit se leierskap was vir sy span goud werd en hy is welverdiend aangewys as speler van die wedstryd.
Agter die skrums het Johan Steyn, skrumskakel, uithalerspel gelewer. Sy oog vir 'n gaping en taktiese skoppies het baie druk op die besoekers geplaas. Hy is aangewys as bester agterspeler.
Voorlangs het die voormalige Springbok, Davon Raubenheimer (flank), 'n barshou gespeel. Raubenheimer het in die vastelos en verdediging uitgeblink. Hy het ook goeie balle vir sy span in die lynstane gewen. Hy is aangewys as beste voorspeler.
Leighton Koopman (heelagter), Marquit September (binnesenter), Adri Jacobs (linkervleuel) Dylan Peterson (agtsteman), Johannes Stander (flank), Wiehan Hay (slot), Kurt Haupt (haker) en stutte, Marne Coetzee en Theunis Nieuwoudt het ook die oog gevang.
Rynhard van As, hoofafrigter, het na die wedstryd aan die George Herald gesê: "Ek is half hartseer en teleurgesteld dat jy sulke tipe rugby speel en nie kwalifiseer vir die halfeindstryd nie.
Ek is trots op elkeen van die spelers vir die harde werk wat hul ingesit het. Vanaand het hul definitief die vrugte gepluk met die puik spel wat hul gelewer het.
"Om na 20 verlore in 'n ry die seisoen so om te draai, toon die karakter wat in die groep is om nooit te gaan lê nie. Ons groot doelwit is om kontinuïteit te behou in ons groep spelers en ons afrigtingspan. Ek voorspel groot dinge vir rugby in die Suid-Kaap. Ons wil met die tipe rugby wat ons vanaand gespeel het mense weer teruglok na Outeniquapark. Dit is belangrik om besigheidsmense ook weer terug te kry."
Puntemakers
SWD Arende 60 (40): Drieë : Martin du Toit (losskakel en kaptein, 3), Janneman Stander (flank, 2), Adi Jacobs (linkervleuel, 2), Marquit September (binnesenter), Kurt Haupt (haker), Jacques Vermaak (plaasvervanger-haker). Leighton Eksteen (heelagter) klits 8 doelskoppe oor.
Die Arende se beste speler teen die OP Kings was ongetwyfeld hul losskakel en kaptein, Du Toit het drie keer gaan druk en hy is ook welverdiend as speler van die wedstryd aangewys.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'