GEORGE RUGBYNUUS - Die vreugdevure het Vrydagaand hoog gebrand in die SWD Arende-kamp nadat hulle dit na vyf jaar weer kon regkry om die Grens Bulldogs in hul agterplaas te klop.
Die Arende het die Bulldogs in die SuperSport-uitdaagreeks met 24-17 geklop nadat die rustydtelling nog 17 elk was.
Die jongste puntestand in die kompetisie is: DHL Westelike-Provinsie 32 punte en punteverskil (+200); Boland Kavaliers 19 punte en punteverskil (+38); SWD Arende 19 punte punteverskil (-14), Grens Bulldogs 11 punte, punteverskil (-89); OP Olifante 5 punte en punteverskil (-135).
Vir die Arende wag daar Vrydagaand om 18:00 op Outeniquapark 'n harde neut om te kraak wanneer hulle die Boland Kavaliers die stryd aansê.
Albei spanne het 19 punte op die punteleer en baklei vir 'n plek in die kwarteindronde. Die Kavaliers het Saterdag op Worcester teen die onoorwonne Westelike-Provinsie met 24 elk gelykop gespeel.
"Ek is baie trots op my span wat momentum behou het om vir Grens op sy tuisveld te klop. Vir die span se karakter was die oorwinning baie belangrik.
"Dis die eerste keer in vyf jaar dat ons hulle op hul tuisveld kon klop en die ouens het baie selfvertroue gekry in ons doelwit om die uitspeelrondes te haal. Die spelers het hul lywe op die spel geplaas met hul puik verdediging. Grens het net twee keer ons doellyn oorgesteek.
"My span het in die vaste fasette en skrums baie druk op Grens geplaas. Die ouens is goed voorberei vir die Boland Kavaliers en sal alles in die stryd werp om die bordjies te verhang nadat hul ons vroeër die seisoen in Wellington met 37-12 afgeslag het," het Rynard van As, hoofafrigter van die Arende, aan die George Herald gesê.
Die oud-Kwagga en voormalige SA skolehaker, die 22-jarige Le Roux Baard, wat 'n pragdrie gedruk het, was ongetwyfeld die Arende se beste speler.
Baard het uitstekend verdedig en met sy kraglopies sy span telkemale oor die voordeellyn geneem. Sy ingooie in die lynstane was ook uitstekend.
Agter die skrum het Johan Steyn (skrumskakel) die wedstryd goed beheer. Sy taktiese skopwerk en puik verdediging het baie druk op die manne van Grens geplaas. Hy het ook die oog gevang met sy puik verdediging.
Die Arende se agterste driehoek, die vleuels, Adi Jacobs en Alshaun Bock, en Leighton Eksteen (heelagter) was altyd gevaarlik met die bal in die hand.
Jacobs is oor vir 'n skitterende drie en Eksteen het 12 waardevolle punte (met 3 doelskoppe en 2 strafdoele) met die skoen aangeteken. Marlou van Niekerk (binnesenter en kaptein) is ook oor vir 'n drie.
Die wenspan se plaasvervangersbank het in die tweede helfte van die wedstryd ook 'n groot inpak gemaak.
Die oud-Kwagga en voormalige SA skolehaker, Le Roux Baard, was die Arende se beste speler in die Supersport-kragmeting teen die Grens Bulldogs. Hy het 'n pragdrie gedruk.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'