Gallery
GEORGE NUUS - "Dis baie amazing." So het die Springbok-held Manie Libbok gister, 8 November, gesê kort na 'n verwelkomingseremonie in die parkeerterrein van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in Yorkstraat.
Die 26-jarige Libbok was deel van die Springbokgroep wat op 28 Oktober die wêreldrugbybeker met 12 - 11 teen die All Blacks gewen het. Hy het 'n belangrike rol in die wedstryde gespeel en gehelp dat die Bokke in die eindstryd gespeel het.
Libbok het sterk bande met George. Hy was in 2014 en 2015 op Hoërskool Outeniqua en het in beide jare vir die SWD Cravenweekspan uitgedraf. In 2015 het hy ook die SA Skolespan gehaal.
Ondersteuners het gister reeds van vroeg by die distriksmunisipaliteit saamgedrom. Toe Libbok kort voor 09:00 opdaag, het die skare gejuig en Bokkoors het hoog geloop terwyl ondersteuners die lands- en Springbokvlae rondgeswaai het.
Libbok was duidelik oorweldig.
Die verrigtinge is met 'n gebed geopen en toe is die land se Volkslied gespeel. Gert van Niekerk, die distriksmunisipaliteit se onderburgemeester, het die verwelkoming gedoen en daarna het die munisipaliteit se Emile Conrad, Suid-Afrika se 'Toughest Firefighter Alive', gewys dat nie alleen is hy taai nie, maar kunstig ook en vir Libbok 'n deuntjie op sy saxofoon gespeel.
FOTO GALLERY: Manie Libbok op George verwelkom
Burgemeester Memory Booysen het 'n eresertifikaat aan Libbok oorhandig wat op sy beurt 'n trui aan Booysen gegee het.
Libbok se tannie, Nita Jansen, is na vore geroep en sy het 'n drukkie van hom gekry.
Lee-Ann Eksteen, een van Libbok se grootste ondersteuners, se trui is deur haar held geteken.
Eksteen het gesê dis haar eerste ontmoeting met haar Springbokheld. "Hy is 'n plat op die aarde mens. Hy maak ons George-inwoners baie trots."
Manie teken Lee-Ann Eksteen se trui.
Later kon ondersteuners vir selfies saam met George se eie Springbok poseer en ook sy handtekening kry. Hy moes behoorlik bontstaan.
Klein Cole Harvey was baie beïndruk want Libbok het 'n rugbybal vir hom geteken.
Libbok het ook sy dank aan al sy George-ondersteuners uitgespreek.
Booysen het aan George Herald gesê Libbok se besoek is nie net vir George 'n groot geleentheid nie, maar vir die hele distrik.
"Dis veral vir die kinders en die jeug. Hulle is op soek na helde. Manie is sout van die aarde en kinders sien op na hom."
Talle kinders wou saam met Manie afgeneem word. Hier is Manie saam met van die kinders, Memory Booysen, burgemeester van die distriksmunisipaliteit, en Gert van Niekerk, die onderburgemeester. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’