Video
GEORGE NUUS & VIDEO - As jy 'n groot rugbyondersteuner is moet jy sorg dat jy die aand van 2 September op Outeniquapark is. Die Stormers draf daardie aand teen 'n span van die SWD Arende uit.
Die Stormers is op die oomblik die toprugbyspan in Suid-Afrika. Die span het op 18 Junie die Verenigde Rugbykampioenskap in Kaapstad gewen toe hy die Bulle in die eindstryd geklop het
Die wedstryd op Outeniquapark is 'n opwarmingswedstryd vir die Stormers in aanloop tot die nuwe seisoen waarin hy sy kroon gaan verdedig.
Besonderhede van die wedstryd waarin SWD-rugbyondersteuners die geleentheid kry om die land se topspan sommer op hul voorstoep aksie te sien, is Woensdagmiddag bekendgemaak.
Die aankondiging is gedoen deur Ben Brinkhuis, waarnemende president van SWD-rugby, bygestaan deur Anton Moolman, hoofafrigter van die SWD Arende en Veda Manie, bestuurder van SWD-rugby.
Die wedstryd sal om 19:00 begin en kaartjies kos R40 per persoon. Kinders onder 12 jaar is gratis. Die plan is om die beker wat die Stormers gewen het, saam te bring sodat plaaslike ondersteuners self ‘n kykie daarna kan kry.
*Die kaartjies sal van 15 Augustus by Outeniquapark beskikbaar wees. Vir meer besonderhede kontak SWD Rugby by 044 050 0660.
VIDEO: Kyk wie kom hier rugby speel
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'