GEORGE NUUS - Dit was in die verlede nie vreemd as rugbyspelers van Hoërskool Outeniqua vir Suid-Afrikaanse skolespanne uitdraf nie en nou is dit weer so.
Ruan Swart, Antonio Bruiners, Camden-Jay Schoeman en JT Strydom is almal opgeneem in twee SA o.18-spanne wat Engeland en Frankryk gaan pak in 'n vierhoekige internasionale rugbyreeks.
Altesaam ses wedstryde sal in Augustus op die velde van Paarl Gimnasium gespeel word. Swart (17), 'n gr. 11-leerling en loskopstut sal vir die o.18-span speel.
Strydom (17), 'n gr. 11-leerling en 'n heelagter, Bruiners (17), 'n gr. 12-leerling en buitesenter en Camden-Jay Schoeman (17), 'n gr. 12-leerling en 'n agsteman sal vir die o.18 A-span uitdraf. Schoeman sal moontlik weer die kaptein wees.
Oud-Kwaggas
In die verlede het die skool se spelers op dié vlak ook hul staal gewys. Warrick Gelant, Duhan van der Merwe, Dewald Human en Remu Malan het in 2013 gewys waartoe hulle in staat is.
In 2014 het Le Roux Baart en Eduard Zandberg gewys wat hulle op die rugbyveld kan doen en in 2015 Manie Libbok
Piet Cloete, adjunkhoof sport by Outeniqua, het Maandag gesê die skool is trots op die spelers. Afrigting speel 'n groot 'n rol en daar is ook uitstekende geriewe.
Afrigters
Abriè Minnie en Henry Grimes, afrigters van die eerste span, het al hul merk op die rugbyveld gemaak. Minnie was voorheen die afrigter van die Griekwas se Curriebekerspan.
Grimes het as speler die SWD Arende verteenwoordig en het ook die span afgerig.
Jaco Janse van Rensburg, 'n rugbyafrigter by die skool het die vier spelers by die Cravenweek afgerig.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'