GEORGE RUGBYNUUS - Klubrugby in die SWD skop die naweek af met die eerste ronde wedstryde in die Premierliga. Progress, die verdedigende kampioen, sal nie in aksie wees nie weens hul betrokkenheid by Saru se Goue Beker-uitdaagtoernooi.
Hulle vertrek juis môre na Thabazimbi waar hulle teen die mynklub, Northam Platinum Rhinos te staan kom.
Dit gaan 'n taai tweestryd wees met die wete dat die verloorder se veldtog in dié toernooi neusie verby is.
Die tuisspan vier vanjaar hul 25ste bestaansjaar en hulle sal Progress ten alle koste wil klop.
Progress se afskop in Suid-Afrikaanse rugby se nasionale vlagskiptoernooi vir nie-universiteitsklubs het die wind van voor gekry toe Durbell hulle met 35-7 afgeransel het. Maar verlede Saterdag het Progress gewys waarom hy die kampioenspan in SWD is toe hy 'n verwoede aanslag van Villagers Worcester afgeweer het om met 33-28 te wen.
En watter mooi gesig was dit nie om 'n volgepakte Rosemoor-stadion te sien nie. Die toeskouers verdien 'n groot klop op hul skouers vir hul onberispelike gedrag wat die besoekende ondersteuners beslis moes beïndruk het. Mooi Rosemoor!
Ons het die SWD-rugbyunie gevra om die 2019-klubrugbyprogram aan te stuur, maar daar het dadels van gekom. Of dit wel bestaan weet nugter alleen en mens kan net hoop dat dié program wel voor die einde van die seisoen beskikbaar sal wees.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'