Dié program sal deur voormalige provinsiale spelers en administrateurs van die klub gedryf word. Bevin Fortuin, tans hoofafrigter van die SWD Arende, is deel van die planne. Fortuin is juis 'n produk van Blanco en sy ervaring en blootstelling op hoogste vlak sal van onskatbare waarde wees om die program 'n hupstoot te gee.
Die doel van die jeugprogram is om 'n geïntegreerde platform te skep om belowende spelers op junior vlak te identifiseer en te werf vir verdere ontwikkeling. 'n Spesialis-afrigtingsprogram word ook in die vooruitsig gestel wat ouers en instansies 'n kans sal gee om talentvolle spelers se ontwikkeling met aanvullende afrigting te versnel.
Ricardo Beukes, hoofafrigter van Blanco United, het aan die George Mini Ads News gesê hulle wil met dié onwikkelingsprogram aan meer spelers met potensiaal 'n kans bied om rugby te speel. "Ons wil dié spelers langer betrokke hou by rugby en 'n platform van uitnemendheid skep waar spelers en afrigters hul volle potensiaal kan bereik."
Skole in en om Blanco is in die visier. Spelers sal veral van die kleuterskole by Kretzenshoop, Geelhoutboom, Diepkloof, Laerskool Blanco, en ook private skole in dié omgewing wat nie rugby aanbied nie, genader word. Die hoërskole wat geteiken word, is PW Botha, George Hoër, Parkdene en private skole.
In die ouderdomsgroep 3-6 jaar sal die basiese vaardighede aangeleer word, maar die klem sal hoofsaaklik val op die genots-aspek van rugby. "Die kleintjies moet hulself eers geniet voordat hulle aan die ernstiger aspekte van rugby blootgestel word," het Beukes gesê.
Van ouderdom 7-12 begin ontwikkeling in aller erns en word spelers geleer hoe om rugby te speel. Individuele ontwikkeling van spelers begin van ouderdom 13-15 en van 16-18 word hulle geleer om hoe om fisiek mee te ding.
Die kleuters van 3-12 jaar sal aan raakrugby en ook sewesrugby blootgestel word. Kontakrugby sal eers van ouderdom 13 af toegelaat word.
Die spelers sal nie aan enige formele liga of kompetisie deelneem nie. Alle wedstryde teen naburige skole word op vriendskaplike basis gespeel en as voorafwedstryde by Blanco se tuisklubwedstryde aangebied aangesien sien die fokus op ontwikkeling val.
Blanco United-rugbyklub se bestuur vir die nuwe seisoen is, van links: Hans Rondganger (addi-sionele lid), Nico Filanie (ondervoorsitter), Daniel Crowley (voorsitter), Maggie Geswindt (onderse-kretaresse) en Bennie Barends (sekretaris). Foto: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'