GEORGE RUGBYNUUS - Hoërskool Outeniqua bied van volgende Vrydag af weer sy gewilde Canon Smart Office Connection Kwagga junior rugbyweek vir o.14- en o.15-rugbyspanne aan.
Dié week word sedert 1995 aangebied en kan daarop aanspraak maak dat dit tot die grootste junior rugbyweek in die land gegroei het.
Altesame 42 spanne gaan deelneem. Veral die o.14-spanne verteenwoordig die beste rugbyskole in Suid-Afrika.
Die openingseremonie is op Vrydag 20 Maart om 19:00 op die A-veld waar al die spanne bekendgestel gaan word. Enigeen is welkom om dit by te woon.
Wedstryde skop af op Saterdag 21 Maart en dan weer op Maandag 23 Maart en Woensdag 25 Maart by Hoërskool Outeniqua.
Vir toeskouers is daar 'n verskeidenheid stalletjies beskikbaar wat eet- en drinkgoed te koop aanbied. Ongeveer 1 000 leerders, afrigters en ouers word in George verwag vir die sportweek, wat ook 'n stewige finansiële inspuiting vir die dorp beteken.
Heerlike ontbyte en middagetes kan ook geniet word tydens die wedstryde by Outeniqua se eie restaurant, die Kwagga Cuisine. Toegang is R10 per volwassene per dag. Hoërskool Outeniqua het hul dank uitgespreek teenoor Canon Smart Office Connexion, die hoofborg van die rugbyweek, en aan Spar Wellington Square as medeborg.
Vir enige navrae bel Pieter Cloete by 084 432 5556.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'